Die berugte draai sowat 3km anderkant Ronnie's Sex Shop tussen Ladismith en Barrydale lê buite die dekkingsgebied van die Courant, maar 'n ongeluk in Maart waartydens vyf mense van Calitzdorp gesterf het, het aanleiding gegee tot die versoek vir 'n veiligheidsreling.
Tydens navrae vir beriggewing oor die tragedie het mense gesê dat daar die afgelope jare al verskeie noodlottige ongelukke op die draai was.
Die Oudtshoorn Courant het die draai, sowat 153 km vanaf Oudtshoorn, gaan besoek en foto's van die draai, die afgrond en verskeie kruise wat daar opgerig is aan die vorige minister van vervoer, Robin Carlisle, gestuur.
Carlisle het onmiddellik opdrag aan kundiges gegee om 'n ondersoek te loods en aanbevelings te maak waarna die volgende boodskap vanaf Lenn Fourie, hoofdirekteur van die Wes-Kaapse padnetwerkbestuur ontvang is: "Dear Mr Visser, Please be assured that we will look carefully at this particular location to see whether we can/should improve signs and/or other safety measures. Thank you for your interest in bringing this matter to the fore."
Na die daaropvolgende ondersoek het die departement se hoofingenieur, Schalk Carstens, laat weet dat die pad aan alle veiligheidsvereistes voldoen, dat gevaartekens voldoende is en dat die draai nie baie skerp is nie, maar dat daar tog na die moontlikheid van 'n veiligheidsreling gekyk sal word.
Inwoners van Ladismith en motoriste wat die pad gereeld gebruik het verlede maand bevestig dat 'n veiligheidsreling tussen die draai en die afgrond opgerig is.
Die afgetrede Carlisle het die Oudtshoorn Courant na die oprigting van die reling bedank vir die koerant se betrokkenheid by en gesindheid oor padveiligheid.
'n Veiligheidsreling van 500m is nou by die gevaarlike draai opgerig.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'