MOSSELBAAI NUUS - 'n Man (29) van Oudtshoorn, wat twee jong vroue geleenthede met sy motorfiets aangebied en die een verkrag het, is in die Oudtshoorn-streekhof vir negentien jaar tronk toe gestuur.
Winston van Rooyen is aan verkragting, seksuele aanranding en aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind.
Hy het by die twee vroue van onderskeidelik 19 en 21 jaar in Voortrekkerweg stilgehou en geleenthede huis toe gebied.
Hy het met die eerste tot in Jonesstraat gery waar hy haar van die bromponie gestamp en probeer verkrag het.
Die hof het bevind dat sy ernstige beserings kon opdoen.
Van Rooyen het op sy motorfiets gespring en weggejaag toe mense skielik op hulle afgekom het.
Hy is daarna terug na Voortrekkerweg waar hy die tweede vrou opgelaai en met haar tot naby die Oudtshoorn-gevangenis gery en waar hy haar verkrag het.
Streeklanddros Daniel Boks het Van Rooyen se getuienis as leuenagtig verwerp.
Hy is vyftien jaar vir verkragting, en vier jaar elk vir seksuele aanranding en aanranding om ernstig te beseer gevonnis wat samelopend uitgedien kan word.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'