OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man van Oudtshoorn wat teregstaan op aanklag van verkragting, roof en huisbraak met die opset om te steel, is verlede week in die streekhof vir uitspraak tot 1 Augustus uitgestel.
Morné Veldsman word daarvan aangekla dat hy op 15 November verlede jaar by die woning van Edwin Malgas ingebreek en 'n DVD-speler en selfoon gesteel het.
Hy het na bewering ook 'n 28-jarige vrou verkrag. Veldsman pleit onskuldig.
Volgens hom was dit nie hy wat by Malgas se huis ingebreek nie en dat die vrou toestemming vir seks gegee nadat hy en 'n vriend haar glo van twee rowers bevry het.
Die vrou het egter getuig dat Veldsman en sy vriend haar verkrag en Veldsman haar selfoon gevat het toe dit begin lui het.
Sy was onderweg van 'n dans toe twee mans skielik te voorskyn kom en haar probeer beroof het. Veldsman en 'n vriend, wat sy nie kon identifiseer nie, het ook bygekom en die mans het haar na 'n vlakkie geneem waar Veldsman haar klere uitgetrek en sonder toestemming met haar seks gehad het.
Sy vriend het haar daarna ook verkrag.
Veldsman het getuig dat die klaagster daarop aangedring het om gemeenskap te hê "uit dankbaarheid" vir wat hulle vir haar gedoen het toe twee mans haar van haar geld wou beroof.
Die staatsaanklaer Nadia Le Roux, het die hof versoek om Veldsman op al die klagtes skuldig te bevind omdat hy verskillende weergawes aan die hof voorhou.
"Die klaagster was 'n goeie getuie en het 'n duidelike beeld gegee van wat gebeur het, " het Le Roux gesê.
Veldsman se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het vir vryspraak op al die aanklagte gevra omdat die vrou aangedring het op seks vir Veldsman en sy vriend se goeie daad, en dat dit twee ander mans was wat haar wou beroof.
"Die beskuldigde se weergawe is redelik moontlik waar en hy behoort vrygespreek te word," het Botha gesê.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'