OUDTSHOORN NUUS - Honderde familielede en vriende van oor die land heen, het Vrydagoggend die uitpasseringsparade van meer as 'n duisend jong rekrute by die Oudtshoorn Infanterieskool bygewoon.
Die minister van verdediging en militêre veterane, Nosivive Mapisa-Nqakula, het die rekrute gelukgewens met die suksesvolle voltooiing van die strawwe basiese opleiding van agtien weke en hulle sterkte toegewens met hul loopbane in die SANW. Sy het beklemtoon dat dissipline, dapperheid, patriotisme en toewyding die belangrikste dinge is wat die weermag van soldate verwag.
"Dissipline en nogmaals dissipline is ononderhandelbaar," het sy gesê en dit aan die rekrute voorgehou dat hulle nie nou na die voltooiing van hul opleiding minder gedissiplineerd kan wees nie.
"Jou toekoms is in jou eie hande en jy moet die geleenthede wat jou in die weermag aangebied word met albei hande aangryp vir groter professionaliteit en ontwikkeling," het die minister gesê.
Volgens die minister is die rekrute nou gevorm as soldate en die uitpasseering die eerste stap op die pad om 'n ware soldaat te wees.
Sy het dit voorts duidelik gestel dat die weermag die een institusie is waar die moontlikheid van dood altyd teenwoordig is. Dit is volgens haar omdat die beroep van 'n soldaat 'n beroep van wapens is.
'n Groep van die meer as 1 000 rekrute wat Vrydag uitpasseer het.
Die Oudtshoorn Infanterieskool het Vrydag ook amptelik afskeid geneem van brigadier-generaal Nkhabu Ntejane, die bevelvoerder vir die afgelope vier jaar, tydens 'n oorhandiging van bevel seremonie aan kolonel Diamond Madie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'