OUDTSHOORN NUUS - Twee mans wat geslagsgemeenskap met minderjariges gehad het, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof aan instemmende seks (statutêre verkragting) skuldig bevind en elk ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.
Die 20-jarige man van De Rust en die 24-jarige man van Oudtshoorn het albei skuldig gepleit en gesê dat hulle in verhoudings met die 14-jarige meisies was.
In die geval van die 24-jarige man, ‘n pa van drie kinders, het die kliniek die saak by die polisie aangemeld toe die swangerskap van die 14-jarige aan die lig gekom het. Die baba is in September verlede jaar gebore.
In die geval van die 20-jarige man het die klaer gelukkig nie swanger geraak nie.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê onbeplande swangerskappe is ‘n groot bron van kommer en lei tot erge probleme.
Hy het beklemtoon dat niemand met ‘n meisie of seun onder 16 jaar geslagsgemeenskap mag hê nie, en die beskuldigdes ‘n laaste kans gegee.
Wat meer kommerwekkend is, is dat ouers en families dikwels verhoudings wat tot onbeplande swangerskappe lei goedkeur, het die landdros gesê.
Die twee mans is elk tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is. Hulle is ook tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis wat behels huisarres vir 24 uur per dag vir die volle tydperk, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Voorts het die hof gelas dat hul name in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’