OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee Nigeriese burgers wat van handel in dwelms aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor tot volgende jaar uitgestel.
Jude Egbuwa en Chizoba Suzan Maduka pleit onskuldig.
Die polisie het op 10 November 2020 toegeslaan op 'n perseel in Adderleystraat en beslag gelê op dwelms met 'n straatwaarde van byna R500 000 asook R50 000 kontant.
Die Oudtshoorn Courant het in 2020 berig dat die huis wat deursoek is deur 'n buitelander, moontlik van Nigerië, gehuur is. Hy het saam met sy vrou en drie kinders, waarvan twee kleuters is, in die huis gewoon.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Attaqua honde-, misdaadintelligensie- en misdaadvoorkomingseenheid op inligting gereageer en die huis deursoek.
"Ongeveer R50 000 kontant is gevind en die polisie het op 12 pakkies tik, 1 190 Mandrax-tablette en 103 gram kokaïen beslag gelê. 'n 33-jarige man is vir handel in dwelms in hegtenis geneem. Voorlopige inligting dui daarop dat die dwelms in Oudtshoorn verkoop moes word."
Tydens 'n verhoor binne 'n verhoor ten opsigte van die geldigheid van 'n deursoekingslasbrief, het die hof bevind dat dit wel toelaatbaar is en die verhoor voortgesit kan word. Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Ben Matthewson, het aangevoer dat die polisie verkeerd opgetree het maar sy beswaar is deur die hof van die hand gewys.
Volgens Matthewson was die lasbrief bestel op Egbuwa wat in beheer was van die hoofhuis en daar geen dwelms in die woning gevind is nie. Sy saamleefmaat Maduka, was in beheer van die houtstruktuur op die erf waar die dwelms en kontant glo gevind is. Die eienaar van die perseel, Mark Von Bergh, het getuig dat Maduka die huurooreenkoms met hom aangegaan het. Die hof het bevind dat die lasbrief die polisie die reg gee om alle geboue en strukture op die betrokke erf, Adderleystraat 148, te deursoek. Von Bergh het getuig dat hy Maduka die betrokke oggend geskakel het om haar mee te deel dat hy 'n stukkende deur in die huis wou vervang. Hy was dus teenwoordig toe die polisie toegeslaan het en het ontken dat hy ook sleutels van die wendyhuis in sy besit gehad het.
Lt.kol. Mthethumile Mxanbamso het getuig dat hy die sakke met bewysstukke op 19 November 2020 na Kaapstad geneem en dit die volgende oggend by die forensiese laboratorium afgelewer het.
Die sakke was volgens hom deurentyd behoorlik verseël.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is tot 23 Januarie 2024 uitgestel. Mervan Saaiman is die aanklaer.
Polisiebeamptes is besig om na dwelms wat vermoedelik versteek was, te soek. Foto's: Liezl van Niekerk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’