OUDTSHOORN NUUS - Twee mans van Lusikisiki in KwaZulu-Natal is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan handel in dwelms skuldig bevind en saam 16 jaar gevangenisstraf opgelê.
Monwabisi Gqumeni (42) en Ongeziwe Mantwanantle (36) is op 19 September 2017 tydens 'n padblokkade buite Beaufort-Wes voorgekeer en hul voertuig is deursoek.
Die polisie het 56,38 kg dagga ter waarde van meer as R112 000 in die voertuig gevind en die twee in hegtenis geneem.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis sal wees vir 'n misdryf wat nie geduld kan word nie en al hoe meer voorkom.
"Dit vernietig gemeenskappe en die hof moet 'n duidelike boodskap uitstuur om voornemende dwelmhandelaars sowel as andere wat daarmee besig is af te skrik."
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat dit nie saak maak wat die hoeveelheid dwelms is wat in oortreders se besit gevind word nie. "Handeldryf in dwelms, is handeldryf in dwelms. Of dit nou een tablet of een gram dagga is," het die landdros gesê.
Gqumenei, wat 'n eerste oortreder is, is gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf, terwyl Mantwanantle, wat nie 'n vreemdeling in die hof is nie, tot tien jaar gevonnis is, en die dagga aan die staat verbeurd verklaar is.
Albei is ook outomaties ongeskik verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het in 'n verklaring gesê die polisiebestuurspan in die Wes-Kaap het die vonnis verwelkom en het die konsekwentheid en waaksaamheid van alle lede in ondersoekspan wat betrokke was, vir hul ywerige werk wat gedoen is, geloof.
"Hierdie arrestasies, intensiewe ondersoek en skuldigbevinding van die twee is in ooreenstemming met die polisiëringstrategie van die provinsie om die invloei van onwettige dwelms, vuurwapens en goedere na die Wes-Kaap te beperk. Vonnisse wat opgelê word, moet ook dien as 'n afskrikmiddel vir muile wat hoofweë, deurpaaie en sekondêre roetes vir dwelmhandel gebruik. Hulle sal die volle mag van die wet in die gesig staar sodra hulle in hegtenis geneem is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’