OUDTSHOORN NUUS - Twee broers, wat vir 'n tweede keer en deur 'n ander hof skuldig bevind is aan roof met verswarende omstandighede is in die Oudtshoorn-streekhof onderskeidelik ses en agt jaar gevangenisstraf opgelê.
Die saak is verlede jaar, na 'n suksesvolle hersieningsaansoek, van voor af verhoor nadat die broers beswaar aangeteken het teen die vorige uitspraak omdat hul regsverteenwoordiger nog nie betoog het nie.
Terrance Draai (28) en Clinton Draai (23) is egter weer daaraan skuldig bevind dat hulle op 5 Junie 2018 'n man wat onderweg was huis toe met 'n mes gedreig en van 'n vetkoek, selfoon, R20 kontant en sy identiteitsdokument (ID) beroof het. Slegs die ID is teruggevind.
Clinton Draai het ontken dat hy op die toneel was en ook nooit met skerp voorwerpe rondloop nie. Volgens hom was hy op parool en kon nie sy huis verlaat nie. Hy het glo eers in die hof gehoor van die betrokke dag se gebeure. Sy weergawe is egter deur die hof verwerp.
Die staatsaanklaer Brandon Smith, het die hof versoek om nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien jaar af te wyk nie. Die skuldiges toon ook nie enige berou nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het in haar uitspraak gesê die hof is tevrede dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Sy het vir vonnisoplegging in ag geneem dat die beskuldigdes reeds langer as twee jaar in aanhouding was, dat die goedere wat geroof is nie van baie waarde is nie en die klaer nie beserings opgedoen het nie.
Terrance Draai, wat sy broer gekeer het om die klaer met 'n mes te steek, is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis terwyl sy broer agt jaar agter tralies sal moet deurbring omdat hy die klaer met 'n mes wou steek en 'n langer lys vorige veroordelings, waaronder een vir geweld, agter sy naam het.
Albei is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'