Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n 72-jarige man en 'n 18-jarige meisie, onderskeidelik van Van Wykskraal en Smartie Town, het sedert Vrydag 27 Oktober hul lewens in twee aparte tref-en-trap- insidente verloor, met nog 'n verdere persoon wat tans in die hospitaal is weens beserings wat hy opgedoen het toe die 18-jarige meisie getref is.
Die Oudtshoorn-polisie het 'n dossier vir strafbare manslag geopen na die dood van Sharlaine Lamont (18) nadat sy Sondag 29 Oktober omstreeks 02:50 langs Dassieweg, Bridgton in Oudtshoorn, deur 'n voertuig raakgery is.
FOTOGALERY: Tref-en-trap ruk Oudtshoorn
Sharlaine was 'n gr. 12-leerder en het gesterf op die vooraand van haar matriekeindeksamen by Hoërskool Môrester. Sy was ook die ma van 'n eenjarige dogtertjie, Roché.
Die pa van haar kind en haar kêrel, Ralston Bezuidenhout, lê tans in George hospitaal met 'n beweerde gebreekte heup en swelling op die brein.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, dui die voorlopige ondersoek daarop dat twee voetgangers, Sharlaine en haar kêrel, in Dassieweg geloop het toe hulle deur 'n voertuig, vermoedelik 'n Volkswagen Polo, getref is wat ná die voorval weggejaag het.
"Albei slagoffers het veelvuldige beserings opgedoen en is vir mediese sorg na 'n nabygeleë hospitaal geneem. Die 18-jarige is later deur mediese personeel dood verklaar. Die ander slagoffer is gehospitaliseer. 'n Soektog na die voertuig is tans aan die gang."
Die ondersoekbeampte, ao. Gregory Veldsman, doen 'n beroep op die publiek om na vore te kom met enige inligting wat daarna kan lei om die betrokke voertuig op te spoor. Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte by 044 203 9200 of 079 894 1897 kontak.
Sharlaine was, volgens die skool, 'n geliefde leerder en sy is beskryf as 'n ongelooflike mens met 'n groot hart. Tydens 'n kranslegging vir haar, Dinsdag 31 Oktober, het hordes inwoners na die plek waar sy vermoedelik doodgery is gestroom om hul laaste eerbewys aan haar te betoon.
Klasmaats, familie, opvoeders en gemeenskapsleiers - onder meer Leon Campher van die gemeenskapsorganisasie Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), het bymekaargekom om haar sinnelose dood aan te spreek. Byna elke spreker het gesmeek dat enige persoon met inligting oor die insident na vore kom.
"Indien jy iets weet en nie na vore kom nie, maar die skuldige party beskerm, is jy net so skuldig en sal jy veroordeel word," was die algemene boodskap.
Een van Sharlaine se klasopvoeders, Abraham Patrick, het gesê Sharlaine was geliefd deur elke klasmaat en leerling waarmee sy in aanraking gekom het. Dit was ook die boodskap van elke leerder, opvoeder en familielid wat Sharlaine beskryf het.
Sy het 'n helder toekoms gehad en wou net vir haar dogtertjie sorg. Sy was altyd daar vir 'n vriend wanneer hulle haar nodig gehad het, het hulle gesê.
Volgens een spreker het Ralston in trane uitgebars toe hy hoor sy is oorlede. Hy was toegewy aan haar en vasberade om na haar en hul dogtertjie om te sien.
Selfs Campher het emosioneel geraak toe hy oor Sharlaine gepraat het. Al het hy haar nie geken het nie, het hy gebieg, het sy en al die mooi dinge wat mense oor haar te sê het sy hart aangeraak. Hy het weereens gevra dat enige persoon wat inligting oor die voorval het na vore sal kom, en die gemeenskap gemaan om mekaar op te pas, die kinders van die gemeenskap op te pas.
Sharlaine se man en pa, Roseline en Gert Lamont, kon geen woorde tydens die kranslegging uitkry nie.
Booi Okkers
Spies het verder bevestig dat 'n 27-jarige man in hegtenis geneem is na 'n voorval waar die 72-jarige Booi Okkers op die N12 Vrydag 27 Oktober doodgery is.
"Daar word beweer dat 'n 72-jarige voetganger die pad oorgesteek het toe hy deur 'n motorvoertuig getref is. Hy het veelvuldige beserings opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Speurders van Dysselsdorp ondersoek 'n klag van strafbare manslag en bestuur van motorvoertuig terwyl onder die invloed van drank."
Ondersoek na albei voorvalle duur voort.
Volgens Campher blyk dit om 'n fratsongeluk te wees.
Okkers is volgens Campher op pad van Dysselsdorp by die afdraai na Van Wykskraal afgelaai toe die voertuig hom getref het.
"Sy vrou het saam met hom geloop, maar sy het nie eers agtergekom wat gebeur nie - dit het juis hard gereën. Mieta het nie geweet wat gebeur het nie."
Volgens Campher het hy byna elke dag verby Okkers op pad Oudtshoorn toe gery. "Hy bly al die jare hier. Toe ek hom leer ken het, het hy reeds daar gebly."
"Hy was 'n lieflike oom gewees. Hy het altyd met sy kierie geloop. Vir my self is dit 'n groot skok."
Daar is gister (Woensdag, 1 November) 'n kranslegging vir Okkers gehou.
Hy laat drie kinders en sy vrou agter, sowel as broers en susters.
Vorige artikel: Twee persone in twee voorvalle doodgery
Sharlaine Lamont (18) is net voor die begin van haar matriekeksamen doodgery. Foto: Facebook
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’