Update
OUDTSHOORN NUUS - Verskillende aspekte van die tabakbedryf in die Klein-Karoo en in die algemeen, is onlangs deur verskeie kundiges op 'n tabakdag toegelig.
Die Tabakdag is deur die departement van landbou se Oudtshoorn-navorsingsplaas, Universal Leaf South Africa (Pty)Ltd (ULSA), en Timac Agro SA, aangebied.
Volgens Jaco Malan, besturende direkteur van ULSA, neem die aanvraag na tradisionele pyptabak, wat hier gekweek word, wêreldwyd af, terwyl daar 'n toename is in die vraag na geskikte tabak vir die vervaardiging van sogenaamde rooklose produkte soos "snus" of "moist snuff", wat veral gewild is in die Skandinawiese lande en die VSA.
"ULSA gaan oor die volgende twee jaar swaar kry totdat ons vir die nuwe mark ingerig is.
Die huidige produksie van sekere grade moet eers stabiliseer om die kwaliteit in lyn te bring met die vraag, sonder om oor te produseer en met voorraad te sit."
Die tabak wat veral in die Klein-Karoo gelewer word, is uiters geskik vir die nuwe mark. "Ons moet kyk na nuwe kultivars wat geskik is vir meganisasie, en die opbrengs moet opgestoot word sonder om kwaliteit prys te gee."
Volgens Tinus de Beer van die Landbounarvorsingsraad (LNR) word ondersoek ingestel na nuwe kultivars met die oog op positiewe kenmerke soos bestandheid teen siektes, geskiktheid vir meganiese oes en hoër opbrengste en geskikte kwaliteit.
Dr. Sonia Steenkamp het proewe op 'n proefperseel op tabakprodusent, Piet Schoeman, se plaas toegelig. Agt verskillende aalwurmmiddels, hoofsaaklik biologies van aard, is in die proefblok getoets om te probeer vasstel watter produkte die beste teenvoeter vir aalwurm is.
'n Tabakland in die Matjiesriviervallei aan die voet van die Swartberge.
Die uitvoermark en buitelandse standaarde laat slegs Velum Prime toe.
Hennie Boshoff (LNR) het aan die hand van 'n voorbeeld verduidelik dat volgehoue diep bewerking daartoe lei dat die koolstofinhoud van die grond afneem.
Minimum-bewerkingsmetodes en groen-bemesting soos lusern, sunn-hemp of hawer, wat in 'n goeie rotasiestelsel gebruik word, en die toediening van kalk wat die omskakeling van plantmateriaal na humus bevorder, kan die grond help herstel.
Volgens Francois van der Merwe van die Tabakinstituut van Suidelike Afrika (TISA) is 25%, en in sommige areas tussen 50 - tot 100% van die sigarethandel onwettig, wat 'n direkte invloed op die wettige tabakbedryf het omdat baie mense eerder die goedkoop, onwettige sigarette, wat in die meeste gevalle plaaslik vervaardig word, koop.
Dit lei daartoe dat die staat tot R5 miljard per jaar aan belastinginginkomste verloor."Hy het boere versoek om foto's te neem van die handelsmerk en plek van verhandeling waar sigarette teen minder as R17.85 (tans die minimum aksynsbelasting en BTW op 'n pakkie van 20), verkoop word en die inligting na TISA te stuur by tisa@tobaccosa.co.za.
Lees 'n vorige artikel: Tabakdag volgestop met inligting
ARTIKEL & FOTO'S: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT-KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'