Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Beweringe dat groot kommer in toerismekringe heers oor die huidige toestand van die Swartbergpas is volgens Oudtshoorn-toerisme nie grondig nie.
Die toestand van die Swartbergpas het onder die vergrootglas gekom nadat 'n plaaslike toeroperateur, Jan Bester, sy kommer oor die toestand van die pas en sy korrespondensie met die owerhede, aan die media gestuur het.
Volgens Bester is daar 'n groot aantal toeriste wat nie kans sien om die pas te gebruik nie.
In 'n e-pos aan amptenare van die Eden-distriksmunisipaliteit, skryf Bester: "Die operateurs kla dat hul gaste wat self bestuur tans nie die pas geskik vind om te ry nie.
"Hierdie is almal internasionale gaste en ek het heeltemal begrip vir hul klagte.
"Ek reis gereeld deur die pas en nie alleenlik word my voertuie beskadig deur die swak kondisie van die pas nie, die gaste kla ook van die uiters onaangename rit."
In 'n e-pos aan Hans Ottervanger, uitvoerende bestuurder van die paaie afdeling van Eden sê Bester:
"Hierdie aangeleentheid is besig om in 'n toerisme noodtoestand te ontaard."
Die Oudtshoorn Courant het Dinsdag die Swartbergpas gaan ry.
Terwyl daar duidelik dele is wat dringende onderhoud nodig het, kon daar met 'n gewone motor tot bo gery word sonder enige skade of groot ongemak.
Daar is met verskeie toeriste onderweg gesels en nie een van hulle het aangedui dat hulle die padoppervlak in so 'n mate ervaar dat hulle dit nie weer sal ry nie.
Een toeroperateur wat toeriste in 'n bussie vervoer het, het gesê sy het die pas al baie erger ervaar.
'n Groep fietsryers met twee begeleidende voertuie kon nie uitgepraat raak oor die ervaring om 'n eg-Afrika ondervinding op 'n bergpas te hê nie.
Drie eienaars van gastehuise in Oudtshoorn het ook gesê dat hulle gereeld besoekers oor die pas stuur en nog geen klagtes ontvang het nie.
Volgens Niel Els, vorige voorsitter van Oudtshoorn- en De Rust-toerisme, kan eensydige kwessies soos hierdie 'n geweldige negatiewe invloed op toerisme hê.
"Dit is so dat die pas dringend onderhoudswerk benodig om te voorkom dat dit erger word, maar om nou te beweer dat daar 'n toerismekrisis dreig is bloot nie waar nie."
Volgens hom sowel as ander lede van Oudtshoorn en De Rust-toerisme met wie die Oudtshoorn Courant gepraat het, het hulle, behalwe vir die e-posse van Bester en 'n tweede operateur, Roeland Gabriel, geen klagtes of besware van enige toeriste of ander belanghebbendes ontvang nie.
Kyk 'n video hieronder.
Een van die fotyo's wat deur Jan Bester aan owerhede gestuur is om te vra dat daar dringend aandag aan die Swartbergpas gegee moet word.
"Almal is maar net te verheug dat die pas oop is nadat dit verlede jaar etlike maande gesluit was as gevolg van vloedskade." het Els gesê.
In reaksie op Bester se navrae het Ottervanger, toegegee dat die Swartbergpas onderhoud benodig, maar genoem dat daar 'n groot aantal grondpaaie in die streek is wat ook dringend onderhoud verg.
Hy het ook aangedui dat die verkryging van gruis tans problematies is. Volgens hom doen hulle alles in hulle vermoë om die uitgebreide padnetwerk met beperkte bronne te onderhou.
"Ek verstaan jou (Bester se) standpunt, maar ons kan net doen wat ons kan doen.
"Ons het egter 'n verpligting om te poog om die pad so goed as moontlik te onderhou en ons sal planne beraam om herstelwerk te doen tot tyd en wyl ons behoorlik kan hergruis. Ons sal julle op hoogte hou."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'