OUDTSHOORN NUUS - Weekkaartjies vir die KKNK se splinternuwe Kuierbuurt (die feesterrein, voorheen bekend as die Rivierbuurt) word op Maandag, 22 Januarie en Dinsdag, 23 Januarie teen ’n spesiale winskoop-prys in die voorportaal van die Burgersentrum op Oudtshoorn verkoop.
Weekkaartjies vir die Kuierbuurt word op dié twee dae teen slegs R175 per kaartjie verkoop teen ’n besparing van R80 per kaartjie.
Dit is die ekwivalent van slegs R25 per dag vir ál die topvermaak in die feesterrein.
Die nuwe Kuierbuurt, geleë op die Oudtshoorn Sportgronde en die Vredestraat Sportterrein, bied hope vermaak vir die hele gesin en is die tuiste van o.a. die Absa Kunsmark se stalletjies, die Huisgenoot-verhoog met topkunstenaars en nuwe stemme wat saans vermaak onder die Klein Karoo-sterre verskaf, die Castle Lager-verhoog waar musiek deur die dag aangebied word, Liplekker se heerlike wyn en deli-produkte, ATKV-Speelbos met hope doendinge vir die jongspan, waaronder Uitkampteater-produksies en ander kroeë en rusareas.
Kaartjies is op 22 Januarie van 09:00 tot 17:00 en op Dinsdag, 23 Januarie van 09:00 tot 14:00 slegs in die voorportaal van die Burgersentrum (op die hoek van Langenhoven- en Voortrekkerweg) op Oudtshoorn beskikbaar.
Daar is geen beperking op die aantal kaartjies wat per persoon gekoop kan word nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'