“Alle inkomste wat uit die skenkingskantoor se verkope gegenereer word, word net so teruggeploeg in die gemeenskap deur onder meer behoeftige kleuters se skoolgelde te betaal of skoolbenodighede vir minderbevoorregte leerders aan te koop,” sê Shanel Wright, Helpende Hand voorsitter in Oudtshoorn.
Volgens Wright vergemaklik die skenkingskantoor die verspreiding en koördinering van skenkings en speel ook 'n groot rol om Helpende Hand se sigbaarheid in die gemeenskap te versterk. “Die skenkingskantoor maak dit baie maklik vir persone in die gemeenskap om skenkings af te laai, meer oor Helpende Hand uit te vind of aan te klop vir hulp.”