Update
OUDTSHOORN NUUS - Twaalf leerders is tydelik geskors en vier klagte van aanranding is by die polisie aanhangig gemaak na die vuisgeveg wat verlede Woensdag op Hoërskool Oudtshoorn se skoolterrein uitgebreek het. Die geveg het uitgebreek nadat die skool reeds verdaag het.
Die Oudtshoorn Courant is in besit van drie video's wat sedert verlede week wyd op sosiale media versprei is.
Op die video's kan gesien word hoe verskeie seuns mekaar met die vuis bydam en ook op 'n stadium op die grond baklei en selfs mekaar met lyfbande slaan.
Verskeie leerders en terreinpersoneel het ingespring om die leerders te probeer keer terwyl ander omstanders die bakleiers luidrugtig aangemoedig het.
Die video's het groot reaksie uitgelok, maar dit blyk dat niemand presies seker is wat tot die ontstaan van die geveg gelei het nie. Mense het verskeie onnadenkende kommentare op sosiale media geplaas wat daarop gesinspeel dat die hele petalje rasgedrewe was. Gerugte is selfs versprei dat dwelms 'n oorsaak kon wees.
Die WKOD se verteenwoordiger het egter telefonies in reaksie gesê hulle is nie bewus van enige inligting wat daarop dui dat dwelms of rassekwessies die oorsaak was nie.
Twee van die seuns stoei met mekaar op die grond.
Die redaksie van die Oudtshoorn Courant moes verskeie kommentare op die koerant se Facebook-blad verwyder aangesien dit rasge-baseerd was en ook die name van sommige betrokkenes genoem het.
Volgens betroubare inligting wat deur die Oudtshoorn Courant bekom is, is van die seuns by die eerste rugbyspan van die skool betrokke en kon hulle nie Saterdag in die wedstryd teen Gimmies speel nie.
Daar is vasgestel dat 'n tugverhoor deur die skool gehou sal word sodra die ondersoek afgehandel is.
Die waarnemende skoolhoof, Gerhardt Rudolph, het Maandag gesê dat hy en die beheerliggaam nie kommentaar gaan lewer nie en alle navrae na die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) verwys.
'n Seun wat sy lyfband tydens die bakleiery afhaal en om sy hand draai. Foto's: Skermgrepe
Milicent Merton, woordvoerder van die WKOD, het dié week gesê dat die skool nie met hulle gepraat het oor die oorsaak van die bakleiery nie.
"Wat ons wel kan bevestig is dat 12 leerders vir sewe dae deur die skool geskors is en dat die beheerliggaam die voorval ondersoek."
Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is vier seuns in drie klagtes aangekla.
'n Vyfde seun is, volgens hom, gister ook in verband met die voorval aangekla. Daar was dus met ter perse gaan, vier klagte teen vyf seuns wat deur die polisie ondersoek word.
Die vyf seuns is gewaarsku om op 7 Mei in die hof te verskyn.
Op die video's kan gesien word hoe verskeie seuns mekaar met die vuis bydam en ook op 'n stadium op die grond baklei en selfs mekaar met lyfbande slaan.
Lees 'n vorige artikel: Vuisgeveg by Hoërskool trek aandag
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'