Gallery
WES-KAAP NUUS - Ongeveer 10 000 leerders is by openbare skole in die Eden- en Sentrale Karoo-distrik ingeskryf om vanjaar met gr. 1 te begin.
Ongeveer 190 leerders is by onafhanklike skole ingeskryf.
Klik hier vir die fotogalerye.
Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, kan die getalle op 'n daaglikse basis verander soos wat die skole die laat-inskrywings op die stelsel aanbring.
"Ons het nog beperkte plekke in sommige van ons skole, hoewel nie noodwendig by die skole van ouers se eerste keuse nie. Ons hanteer elke geval soos wat dit onder ons aandag kom.
"Ons het leerders op die waglys, maar dit is nie altyd betroubaar nie omdat ouers by meer as een skool aansoek gedoen het en omdat ouers nie bereik kan word by hul kontaknommers nie."
Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, het die week in 'n verklaring gesê dat 106 015 leerders in die Wes-Kaap vanjaar vir die eerste keer skool toe is.
Sy het ook aan ouers gesê indien hulle steeds vir hul kinders plek in 'n skool soek hulle die distrikskantoor moet skakel.
Vir die Eden- en Sentraal Karoo-distrik kan Albie Ellman by 044 803 8300 of 044 803 8309 geskakel word of stuur 'n e-pos na Albie.Ellman@westerncape.gov.za.
Sy het verder ouers aangemoedig om aktief by hul kinders se skoolloopbaan betrokke te wees.
"Kinders kan baie meer bereik as hulle ondersteuning van hul ouers het. Ouers moet ook hul kinders aanmoedig om hul lees- en skryfvaardighede te verbeter."
Die kinders lyk baie gelukkig om na 'grootskool' te gaan.
Skole in die Oudtshoorn-distrik
Die Oudtshoorn Courant-verslagspan het Woensdag sommige skole in die Oudtshoorn-distrik besoek.
So lyk die voorlopige gr. 1-inskrywings by skole wat op navrae reageer het:
- Laerskool De Rust: 117
- PJ Badenhorst Primêr: 86
- St. Konrads Primêr: 58
- Bongolethu Primary: 103
- Laerskool van Reede: 120
- Laerskool Wesbank: 96
- Bergsig Primêr: 202
- Colridge Primêr: 100
- Towerkop Primêr: 121
- Saturnus Primêr: 217
- De Villiers Primêr: 149
- Sacred Heart Primêr: 180
- Laerskool Laurus: 49
- Principia Onafhanklike skool 9
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'