LADISMITH NUUS - Die Ladismith-polisie het verlede Vrydag, in twee onverwante voorvalle persone op dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, was die eerste voorval Vrydagoggend.
"Polisiebeamptes het inligting ontvang dat verdagtes vermoedelik dwelms op die Ladismith-/Laingsburgpad vervoer. Hulle het 'n Hilux-bakkie afgetrek en 'n plastieksak met 200 Mandrax-tablette in die verdagte se hemp gevind. Die waarde van die dwelms beloop R12 000. Die 31-jarige verdagte is op aanklag van handel in dwelms in hegtenis geneem en het Maandag in die Ladismith-landdroshof verskyn."
Pojie sê verder dat die tweede voorval Vrydagaand gebeur het.
"Lede van die Ladismith-sigbarepolisiëringseenheid het ses verdagtes in hegtenis geneem na daar 79 sakkies tik en Mandrax-tablette in 'n woning in Dirk Bosmanlaan gevind is."
Volgens Pojie het die lede inligting ontvang dat daar met dwelms op die perseel gehandel word. Die verdagtes is tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar oud. Die verdagtes het ook reeds Maandag in die hof in Ladismith verskyn.
Die dwelms wat Vrydag deur die Ladismith-sigbarepolisiëringseenheid gekonfiskeer is.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'