PRINS ALBERT NUUS - ’n Dertienjarige seun van Noordeinde in Prins Albert verskyn hierdie week vir die tweede keer in die kinderhof hier ná die moord op ’n 27-jarige vrou op Tweede Kersdag.
Sersant Nico April, kommunikasiehoof van die plaaslike polisie, het die moord op Veronica Baartman bevestig.
“’’n Klagte is op 26 Desember die middag te Aalwynstraat 327 in Prins Albert bygewoon. ’n Vrou, ’n 27-jarige, is op die toneel dood gevind. Navrae is gedoen en ’n seun van dertien is gearresteer nadat getuienis bekom is dat hy haar met ’n mes gesteek het.
"Volgens die ooggetuies het die oorledene en die seun met mekaar baklei. Die seun is deur die maatskaplike dienste geassesseer en in die sorg van sy moeder vrygelaat. Die seun het die eerste keer op Maandag 28 Desember in die kinderhof verskyn op ’n aanklag van moord. ’n Lykskouing het getoon dat die vrou met ’n skerp voorwerp in haar long gesteek is.”
Volgens April is die saak tot 6 Januarie uitgestel.
Ooggetuies vertel dat die seun die mes glo aanvanklik nie by hom gehad het nie, maar nadat die stryery tussen hom en die oorledene ontstaan het, dit elders gaan haal en Veronica aangeval het.
Anton Baartman van Mosselbaai, broer van die oorledene, het aan Oudtshoorn Courant gesê hy is nie net geskok oor die omstandighede van sy suster se dood nie, “maar ook oor die gebrek aan inligting wat die Prins Albert-polisie aan ons as Veronica se familie gegee het. Ek en my ouer broer, Ryno, het tevergeefs probeer uitvind wat presies gebeur het. Ons het geen lykskouingsverslag gekry nie. Gelukkig het my werkgewer my onmiddellik verlof gegee, ook finansiële hulp, om in Prins Albert te kom om meer te wete te kom. Die enigste een wat sy hulp kom aanbied en simpatiseer het, was Hannes van der Westhuizen van dié polisiekantoor.”
Veronica is verlede Saterdagoggend in Prins Albert begrawe.
Veronica se ma, Elsie tydens die begrafnis.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'