Update
OUDTSHOORN NUUS - Die slagoffer wat Vrydagoggend by die Queen's-inkopiesentrum onder twee diewe deurgeloop het, is vol lof vir die bestuur van Pick n Pay, die polisie en sekerheidsmaatskappye wat die verdagtes binne minute vasgetrek het.
Geoffrey Pringle (68) vertel dat hy Vrydagoggend omstreeks 10:30 by Pick n Pay inkopies gedoen het.
Toe hy by die winkel uitstap het hy 'n botteltjie water in een hand gehad en hy het sy beursie in 'n inkopiesak in die trollie gesit.
"Ek was klaar met my inkopies en het reeds 'n taxi gebel om my te kom haal. Toe ek uitstap het 'n man my voorgekeer en gevra of ek vir hom R50 kan gee. Daar was nog 'n man saam met hom en ek het besef my beursie lê in die sak, maar ek het dit dopgehou. Die man het egter my aandag afgtrek en net daarna het hulle vinnig weggeloop. Toe ek by die taxi kom en geld wou uithaal, het ek besef my beursie is weg."
Pringle het dit dadelik by die sekuriteitsbeampte by Pick n Pay aangemeld en binne minute het hulle beeldmateriaal op die kamerastelsel gekry waar die twee mans duidelik sigbaar is.
Een van die kameras in die parkeerterrein het ook die voertuig waarin die mans gespring en weggejaag het, afgeneem.
Die polisie en sekerheidsmaatskppye in die dorp is onmiddelik verwittig en kort daarna is die motor op 'n ander kamera in die dorp opgemerk.
Die Mazda met drie mans, is voorgekeer toe hulle by Agri Klein Karoo wou indraai.
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem, maar Pringle se beursie is nie gevind nie. Volgens hom is een van sy kaarte wel by een van die mans gekry.
Die mans het glo ook 'n afstandbeheer in hulle besit gehad waarmee motors vermoedelik oopgsluit kan word of waarmee verhoed kan word dat eienaars hulle voertuie elektronies sluit.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het Skoko Langandi (35) en Mtatsi Sonwabo (41) Maandag, 11 Januarie, op 'n klag van diefstal in die hof verskyn. Die Mazda waarmee hulle gery het, is in Mosselbaai geregistreer.
Pringle sê hy was geskok toe hy op die beeldmateriaal sien die twee mans het hom die hele tyd binne die winkel dopgehou. Op een deel van die video staan hulle reg agter hom terwyl hy by 'n tafel in die winkel staan om die taxi te bel.
"Ek kan nie verduidelik hoe goed die mense van Pick n Pay, die polisie en die sekuriteit my behandel het en hoe vinnig hulle opgetree het nie. Ek wil regtig vir die dorp se mense sê hier is besighede en polisielede wat nog baie omgee en uit hulle pad gaan om mense te help," het hy telefonies aan Oudtshoorn Courant gesê.
Geoffrey Pringle verlaat die winkel met sy beursie in die inkopiesak.
Die twee verdagtes kort op Pringle se hakke.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'