Volgens kapt. Louis Visser, kommunikasiebeampte van die Oudtshoorn SAPD, is die klem hierdie seisoen op sigbaarheid en misdaadvoorkoming en werk hulle baie nou saam met die munisipale sowel as die provinsiale verkeersowerhede. As deel van die sigbaarheidsprogram sal padblokkades gehou word en polisievoertuie op die hoofpaaie diens doen.
Die eerste padblokkades is reeds verlede Vrydag tussen De Rust en Oudtshoorn en George en Oudtshoorn gehou. Die padblokkades het deel gevorm van die polisie se Operation Watchdog wat verlede week plaasgevind het. Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Bernadine Steyn, is verskeie padblokkades in die Suid-Kaap gehou en het die polisie ook verskeie probleemareas besoek om dwelm- en drankmisbruik aan te spreek.
Volgens Steyn was die operasie uiters suksesvol en is meer as 3000 motors by padblokkades in Beaufort-Wes, Oudts-hoorn, George en Mosselbaai deursoek. Verskeie boetes is uitgereik en meer as 90 verdagtes wat gesoek is vir misdade wat wissel van huisbraak tot moord, is aangekeer.
Beveilig huise
Tydens die feesgety is dit belangrik dat mense voorsorg tref vir die beveiliging van hul huise voordat hulle met vakansie gaan. Volgens Kapt. Visser is misdadigers op die uitkyk vir huise wat tydens die vakansie leeg staan. Hy beveel aan dat inwoners die volgende in gedagte hou voordat hulle die huis verlaat:
- Moenie tuingereedskap en lere buite
- laat nie, misdadigers gebruik dit dikwels om toegang tot die huis te kry.
- Skuifdeure en groot vensters verleen maklike toegang tot huise, maak seker dat dit beveilig is.
- Vra vriende of bure om gereeld die huis te besoek, die tuin te versorg en pos te verwyder. Opgehoopte pos, onversorgde tuine en ligte wat bedags brand is duidelike tekens dat die huis leeg is.
- Stel bure in kennis van vakansieplanne en wie toestemming het om die huis binne te gaan.
Om toeriste in die streek te verwelkom word ‘n "padblokkade" vandag deur die groter Oudtshoorn Toerisme in De Rust gehou.