Update
OUDTSHOORN NUUS - Suné Rupping is weer as president van Oudtshoorn Rotariërs ingehuldig. Haar nuwe termyn strek vanaf Julie vanjaar tot Junie 2019. Die inhuldigingsfunksie verlede Maandag, is deur plaaslike Rotariërs sowel as lede van Mosselbaai en Beaufort-Wes bygewoon.
'Maak 'n verskil’ was die tema van Oudtshoorn Rotariërs tydens die 2017/2018-termyn en verskeie projekte is van stapel gestuur om die tema gestalte te gee. Met een van die projekte is 850 skoendose met geskenke aan kleuters uitgedeel. Die Rotariërs het ook gesorg dat meer as 700 behoeftige pasiënte basiese gesondheids- en tandartsdienste ontvang het.
Volgens Rupping is sy opgewonde oor haar volgende termyn en die projekte wat beplan word.
"Ons sien uit na ‘n opwindende 2018/2019 waar ons onder andere met die hulp van Oudtshoorn se sustersdorp, Alphen aan den Rijn, fase twee van ons crèche gaan voltooi." Sy wil nie nou uitbrei oor ander projekte nie aangesien hulle nog in beplanning is.
Die tema vir 2018/2019 is ‘Wees die inspirasie’ en volgens Rupping sal hulle na nuwe projekte kyk om die gemeenskap te bevoordeel.
Tydens die inhuldigingsaand is 'n spesiale toekenning aan André van Greunen oorhandig. Hy was een van die stigterslede van die Oudtshoorn-aftreeoord wat in 1993 geopen is. Hy is die afgelope 25 jaar die voorsitter van dié aftreeoord. (1993-2018).
Die Oudtshoorn Courant het die aankondiging van die nuwe aftreeoord in September 1992 op die voorblad gedra. Dié voorblad met nog berigte oor Van Greunen se betrokkenheid by die Rotariërs is verlede week in 'n nuwe "voorblad" omskep, geraam en aan hom oorhandig.
Lees 'n vorige artikel: 2de Vrouepresident vir Rotariërs
'Ons bring jou die nuutste Oudtsthoorn, Klein Karoo nuus'