OUDTSHOORN NUUS - 'n Jong man van Dysselsdorp, wat 'n bekende gemeenskapsleier met 'n mes gedreig en van R60 kontant beroof het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.
Klaas Adams (20) het skuldig gepleit en erken dat hy George Meyer op 13 Mei vanjaar in Vygiestraat, Dysselsdorp beroof het.
Volgens Adams het hy die dag tik gerook, maar goed geweet wat hy doen.
Meyer het Adams tydens die aanval met die vuis in sy gesig gestamp en die mes afgeneem waarna Adams met die R60 weggehardloop het.
Volgens Adams wou sy familie die geld aan Meyer teruggee maar die klaer wou gehad het dat hy dit self doen. Hy was egter in aanhouding.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het toegegee dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar af te wyk.
Volgens hom het Adams seker gedink dat hy na die gebruik van tik onsigbaar sal wees. "Die klaer is gelukkig nie beseer nie en Adams toon met sy pleit van skuldig ietwat berou."
Streeklanddros Sylvia Mandla, het gesê hoewel dit 'n klein bedrag is wat ter sprake is, is dit 'n ernstige misdaad wat algemeen in die distrik voorkom.
Sy het in ag geneem dat Adams skuldig gepleit het en toegegee dat die voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar in die geval onvanpas sal wees.
Sy het bevind dat die versagtende omstandighede swaarder weeg as die verswarende omstandighede en Adams tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kan na die uitdiening van tien maande om parool aansoek doen.
Hy is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'