Nadat 'n dringende interdik verlede week deur die hoërhof toegestaan is waarvolgens die speaker, John Stoffels, gedwing word om 'n raadsvergadering te hou het die vergadering wel plaasgevind, maar die speaker, die burgemeester en onderburgemeester sit nog stewig in hulle stoele.
Volgens die uitspraak van die hoërhof moes die DA se mosies van wantroue in die speaker, burgemeester en onderburgemeester op die agenda van die vergadering wees en voor die raad dien. Die speaker het tydens Woensdag se vergadering, nadat die drie nuwe raadslede ingesweer is, aangekondig dat hy, in navolging van die hofuitspraak die mosies op die agenda geplaas het.
Hy het ook verder te kenne gegee dat die mosies volgens regulasies ingedien is en dat daar niks met hulle vekeerd is nie. Daarna kondig hy egter aan dat die voortslepende hofsaak wat moet bepaal of die vergadering van 31 Mei wettig was aldan nie hom verhoed om toe te laat dat die mosies voorgelê word vir stemming.
Met slegs twee agendapunte naamlik die inswering van die drie nuwe raadslede en die mosies van wantroue wat glo nie mag dien nie, was die vergadering in 'n oogwink verby. Die speaker het aangedui dat die mosies weer mag dien nadat die hofsaak iewers in die toekoms afgehandel is.
Na afloop van die vergadering het die DA voorsitter, Wessie van der Westhuisen bevestig dat die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, soos deur die hoër hof bepaal is, self 'n vergadering moet belê waartydens die mosies van wantroue gaan dien.
Die plaaslike DA woordvoerder Chris McPherson het Woensdag gesê dat Stoffels aangekla kan word van minagting van die hof aangesien hy nie, soos deur die hof gelas, toegelaat het dat die mosies dien nie.
"Die hofsaak waarna hy verwys het absoluut niks te doen met die mosies wat moet dien nie. Hy het eenvoudig die opdrag wat Regter Rodgers verlede week gegee het geignoreer. Dit is weereens 'n poging om aan mag vas te klou teen die wil van die kiesers wat duidelik hulle stem op 7 Augustus uitgebring het."
Die verwikkeling tydens Woensdag se vergadering beteken dat die DA, ondanks die feit dat hulle nou die meerderheid raadslede het, steeds nie in beheer van Oudtshoorn is nie.
Lede van die publiek het na die vergadering in twee groepe voor die munisipale kantore saamgedrom. Aan die een kant was ANC onersteuners wat die jongste pogings om die demokrasie te omseil toegejuig het terwyl DA ondersteuners aan die ander kant luidkeels protes aangeteken het teen die voortslepende proses wat belastingbetalers honderde duisende rande uit die sak jaag.
Minstens een DA-ondersteuner was Woensdagoggend nog optimisties oor dié party se planne om beheer van die raad te neem.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'