OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee mans, onderskeidelik van Mosambiek en Nigerië, wat meer as twee jaar gelede op die N1 buite Beaufort-Wes met tik van meer as R27 miljoen in hul motor in hegtenis geneem is, is Maandag in die Oudtshoorn-landdroshof uitgestel vir die voortsetting van 'n tweede borgaansoek.
Benjamin Amalukwe en Nelson Matavele is in November 2015 met 77,5 kg Methaphetamine (tik) wat in die deure van hul voertuig versteek was gearresteer en word aangekla van handeldryf in dwelms, alternatiewelik onwettige besit of gebruik van dwelms.
Die verhoor van die twee was in 'n gevorderde stadum toe die voorsittende beampte, landdros Mark van Wyngaardt, verlede jaar skielik oorlede is en dit van voor af deur 'n nuwe landdros aangehoor moes word.
Van Wyngaardt sou op 12 Desember 2017 uitspraak in die saak gelewer het na die betoë van die staat en die verdediging.
Hulle wil nou weer om borgtog aansoek doen en die staatsaanklaer, Willem Vister , het die hof Maandag om uitstel tot 19 Maart gevra, omdat hy wag vir inligting van die departement van binnelandse sake ten opsigte van Amalukwe.
Die staat staan borgtog teen.
Die saak dien voor landdros David Lakey van Kaapstad.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'