Update
OUDTSHOORN NUUS - "Coen Basson is 'n gesofistikeerde verteller, 'n skrywer wat uitstekende tydspronge in sy verhale maak, sonder dat die leser die draad verloor. Tussen ons se inhoud is goed, die voorkoms goed, en tegnies en taalkundig goed versorg."
Só het die digter en vertaler Daniel Hugo verlede Donderdagaand gesê by die bekendstelling van Basson se debuutbundel kortverhale wat pas verskyn het.
Hugo het 'n onderhoud met die skrywer gevoer voor sowat 40 mense wat die geleentheid in die Cape Karoo Emporium in Oudtshoorn bygewoon het.
Tussen ons is deur Turksvy Publikasies uitgegee. Basson was jare lank lid van die Klein-Karoo Skryfforum (KKSF). Nog 'n lid, Maretha van der Westhuysen, se kortverhaalbundel, Deur haar venster, het in Maart by Turksvy verskyn.
Oor die keuse van 'n titel vir sy bundel het Basson aan Hugo gesê dis nie 'n maklike taak nie. "My boek gaan oor die verhoudings tussen mense. Alles gebeur tussen ons. Of tussen jou en die noodlot, die boosheid en die tyd. Tussen ons is daar herinneringe, emosies, verwyte, hartseer en gruwel. Die verhale gaan oor die lewe en die dood, oor redes en gevolge. In elkeen se lewe gebeur daar dinge wat in verhouding staan met iemand anders." Hugo het aan Basson gesê sy karakterisering en humorsin is goed, terwyl die dialoog die verhaallyne versterk. Hy het Basson ook gekomplimenteer met die verhale se afloop wat telkens met 'n onverwagse kinkel eindig.
Volgens Basson, "moet die slot só wees dat dit voortvloei uit jou storie; jou leser moet daardie einde nie sien kom nie."
Oor verhaalidees het hy gesê dit kan op enige tyd, enige plek ontstaan. "Ek skryf oor dit waarvan ek weet, dit wat ek verstaan. Dis dalk iets wat ek in die koerant lees of iets wat gebeur wat my kreatiewe denkproses aan die gang sit."
Hy het in 'n huis van stories grootgeword, het Basson vertel. "My pa was 'n boer, my ma 'n verpleegster, ons plaas in die Kammanassie. Ek is daar gebore. Die eerste agt jaar van my lewe was ek 'n alleenkind. Pa kon van enigiets 'n storie maak, selfs van 'n hek in 'n pad. Toe ek vier jaar oud was, het Ma-hulle my skool toe gestuur om die plaasskool se getalle aan te vul. Dis waar ek leer lees het. Maar dis eers so tien jaar gelede dat ek werklik leer skryf het. Dalk was ek voor daardie tyd 'verkeerd' besig, maar gelukkig vir die letterkundige prof. Gerhard Beukes op universiteit en tannie Retha Theron van Uniondale wat destyds in my lewe gekom het en my deeglik aan die lees gesit het toe sy 'n leeskring gestig het. 'n Mens kan nie skryf as jy nie lees nie."
Marina Eilers, het gesorg vir nog meer geloofwaardigheid aan die boek met haar puik voorlesing van twee van die verhale.
Kontak Coen Basson by 084 233 3600 of Turksvy Publikasies by turksvypublikasies@gmail.com vir meer inligting oor Tussen ons.
Coen Basson met sy kortverhaalbundel.
Ongeveer 40 gaste het die bekendstelling van Coen Basson se kortverhaalbundel bygewoon.
Vorige artikel: Puik kortverhaalbundel uit Oudtshoorn
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'