PRINS ALBERT NUUS - Finansiële volhoubaarheid is die nuwe munisipale raad van Prins Albert se grootste uitdaging én doelwit. So het Linda Jaquet, nuwe DA-burgemeester, by die bekendmaking van haar 100 dae-plan gesê.
Sy het haar verbind tot die onmiddellike verbetering en verandering van belangrike bestuurskwessies van dié munisipaliteit – met deursigtige finansiële bestuur nommer een op die lys.
"As ons nie geld het nie en ons begroting is nie kontantgesteun nie, kan ons nie al die ander uitdagings aanpak nie. Die regstel van ons finansiële situasie sal nie ten koste van dienslewering wees nie. Die straatligte sal brand, die slaggate sal reggemaak word, skoon drinkwater gaan uit ons krane loop, die dorp sal skoon wees," sê sy.
Jaquet voel sterk oor deursigtige bestuur. "Die nuwe DA-geleide raad sal nie korrupsie duld nie en daar sal geen inmenging deur die raad in die administrasie wees nie. Ons wil hê ons werknemers moet opgewonde wees oor 'n nuwe era waarin hulle dinge gedoen kry. Aanspreeklikheid is belangrik, sowel as gekoördineerde bestuur. Ek verwag hoë standaarde van professionaliteit en toewyding van elke amptenaar. Ek glo as ons die regte dinge doen en by ons waardes hou, ons oor vier jaar 'n munisipaliteit sal hê wat veerkragtig en stabiel is, wat innoverend is en omgee, wat eerlik en burgergerig is vir dienslewering. Prins Albert sal dié toeristebestemming wees, die juweel van die Sentraal-Karoo en die Wes-Kaap.
"Jaquet se honderd-dag-plan, wat begin Oktober in werking getree het vir die hele munisipaliteit (Prins Albert, Prins Albertweg, Leeu-Gamka en Klaarstroom), omvat onder meer prestasie-ooreenkomste wat sy, die onderburgemeester, speaker en voorsitter van die munisipale eiendoms-en-assesseringskorporasie gaan onderteken.
- Die inspan van tegnologie en innovasie, in samewerking met die Wes-Kaapse regering, om vinnig op inwoners se vrae en klagtes te reageer en doeltreffender te werk.
- Vir alle departemente in die munisipaliteit sal standaardbedryfsprosedures ontwikkel word.
- 'n Skoon, groen omgewing is hoog op die prioriteitslys. Een spesifieke projek is die skoonmaak van stormwaterkanale in die hoofstraat, binne dertig dae.
Binne die volgende drie maande gaan die munisipaliteit met behulp van die department omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning begin met herwinningsprosesse en die behoorlike bestuur van stortingsterreine. Voorts gaan daar, in die afsienbare toekoms, intensief ondersoek ingestel word na die gebruik van natuurlike hulpbronne om die dorp se afhanklikheid van Eskom te verminder, sê sy.
"Binne sestig dae gaan gesorg word vir die behoorlike opleiding van ons wetstoepassingsamptenare, in samewerking met die stad Kaapstad. Ons verklaar oorlog teen onwettige storting en teen vandalisme. Die gemeenskapsveiligheidsplan word nou in oorleg met die gemeenskapspolisiëringsforum hersien. Ons is ook daartoe verbind om beligting in die donker kolle van ons dorpe binne negentig dae te voorsien. Vennootskappe sal gesluit word met die departement maatskaplike ontwikkeling van die Wes-Kaap en die plaaslike dwelmaksiekomitee en geslagsgebaseerde geweld sal aandag kry."
Jaquet sê in November gaan die Wes-Kaapse minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, 'n slagofferondersteuningskamer by die plaaslike polisiekantoor open. Kwessies om die leefstyl van inwoners te verbeter, word gepak: Met die finansiering van die provinsiale departement plaaslike regering gaan waterlekkasies in die munisipaliteit herstel word. Jaquet het ook voorts verbind tot die regmaak van sypaadjies en slaggate, sowel as die elektrifisering van sommige strate. Die ingang van Prins Albert verdien verfraaiing, sê sy.
"Daarom gaan ons, saam met skole, die ingangsmuur (aan die noordekant van die dorp) in 'n kunswerk omskep." Nog 'n belangrikste stap vorentoe is dat die administrasie binne negentig dae voorstelle gaan aanvra vir die omwikkeling van die Prins Albert-vliegveld – een van die steunpilare van toerisme hier. Leeu-Gamka en Klaarstroom twee dorpies in die munisipaliteit kry spesiale aandag: In Leeu-Gamka gaan die opmeting van die Transnet-eiendom voltooi word sodat die oordrag daarvan aan die munisipaliteit afgehandel kan word, en in Klaarstroom gaan druk op Eskom geplaas word om die Poort Pourri-gebou hier weer aan die stelsel te koppel.
"Ons wil die mikro-onderneming help wat die kontrak ingepalm het om 'n koffiewinkel en kuns-en-kunsvlytwinkel hier te bedryf. Nog 'n projek in Klaastroom is die Thusong-sentrum, waarvoor ons 'n besigheidsplan gaan indien." Ander inwonersinisiatiewe wat nou die munisipaliteit se volle aandag het, is die beplande internasionale jazzfees in Mei volgende jaar en die Prins Albert-gemeenskapstrust se #Us4Us-konsert einde Oktober. Die munisipale raad vergader in November met Prins Albert Toerisme, onder wie se vaandel die lewendige gasvryheidsbedryf val. Van die belangrikste langtermynplanne is 'n droogtegereedheidsplan, sowel as voedselsekerheid in die gebied. Twee senior aanstellings kry ook nou aandag: Dié van 'n vaste munisipale bestuurder en die nuwe verkeershoof, wat op 1 November begin.
"Ons moet ons kommunikasie verbeter. Ons Facebook-blad het al aansienlik verbeter, maar ons kan meer doen. Ons webwerf is verouderd en vervelig. Ek gaan ook 'ope dae' deur die burgemeesterskantoor instel vir alle munisipale navrae, of dit nou gaan oor finansiering, stadsbeplanning, bouplanne en -prosesse of behuising. Ek wil hande vat met die gemeenskap om ons aanspreeklik te hou vir hoe ons u belastinggeld gebruik en hoe ons u direkte omgewing beskerm. Daarom versoek ek u om u rol te speel om u wyksraadslede te betrek, openbare vergaderings by te woon en u mening uit te spreek."
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'