OUDTSHOORN NUUS - Gesamentlike pogings om die publiek gedurende die vakansietydperk te beskerm, as deel van voortgesette Veiliger Feesseisoen-veldtogte, het weereens positiewe resultate opgelewer.
Volgens sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Ladismith-polisie op 7 Januarie patrolliewerk in Ladismith gedoen, hulle 'n verdagte persoon in Bellstraat opgemerk het.
"Toe die man die polisie sien, het hy gevlug. Die lede het die verdagte gevolg en hom in hegtenis geneem. 100 Mandrax-tablette is in sy besit gevind." Die 18-jarige verdagte is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.
Lede van die landelike blitspatrollie en die misdaadvoorkomingseenheid het ook ses ander verdagtes vir dwelmverwante klagtes in hegtenis geneem. Spies sê dié operasie vorm deel van die polisie se pogings om dwelmhuise in die Suid-Kaap toe te maak.
"Twee van die ses persone wat in hegtenis geneem is, is vir handel in dwelms gearresteer, terwyl die ander vier vir die besit van dwelms in hegtenis geneem is. Die verdagtes is in Oudtshoorn, Knysna, Conville en Kwanokuthula gevang. Die polisie het tydens die operasie 39 sakkies tik, 32 Mandrax-tablette en 14 strooitjies tik gekonfikskeer."
Die verdagtes bly in aanhouding tot hulle in die hof gaan verskyn. Die Wes-Kaapse kommesaris, lt.genl. Thembisile Patekile, het die lede vir hul optredes geloof.
Dwelms wat deur die polisie in Ladismith gevind is.
'Ons bring jou die nuuste Oudtshoorn, Klein Karoo'