LADISMITH NUUS - Die stryd om die politieke bestuur van Kannaland is skynbaar nog lank nie opgeklaar nie.
Die DA se vreugde om weer in samewerking met die ANC die beheer in Kannaland op 10 Maart oor te neem, was van korte duur en daar sal van voor af met 'n strategie vorendag gekom moet word.
Die hooggeregshof in die Wes-Kaap het verlede Vrydag beslis dat die vergadering waartydens die DA se Aletta Theron weer as speaker aangewys is en Joslyn Johnson as raadslid op die Garden Route-distriksmunisipaliteit, onregmatig was.
Die vergadering het gevolg nadat die DA mosies van wantroue teen Icosa se Werner Meshoa en Hyrian Ruiters ingedien het. Meshoa, wat toe speaker was, het egter die vergadering verdaag sonder om die mosies te laat dien, en die DA- en ANC-raadslede het met die vergadering voortgegaan en Meshoa en Ruiters vervang.
Icosa het 'n dringende aansoek voor die hof gebring om die besluit om te keer en hulle aansoek is Vrydag toegestaan wat beteken dat Meshoa steeds die speaker is.
Jeffrey Donson, leier van Icosa het na die uitspraak gesê: "Die ANC/DA-koalisie moes sekerlik ons woorde ligtelik opgeneem het toe ons hulle gewaarsku het dat ons hulle in die hof sal sien. Ons het ons op ander takke van Icosa beroep om ons te help om die regskoste te dra."
In reaksie op 'n navraag het die DA se kiesafdelingshoof van Kannaland, Gillion Bosman, gesê die DA het reeds weer kennis van die mosies gegee. Gerugte dat die ANC van voorneme is om die twee raadslede, Magdalene Barry (burgemeester) en Philippus Antonie, wat hulle by die DA geskaar het, te skors, kon nie bevestig word nie.
In 'n tweede hofsaak is die bordjies teen die Icosa egter verhang. Anton Bredell, provinsiale minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die hooggeregshof in Januarie genader om Kannaland se munisipaliteit te verhinder om 'n ooreenkoms vir elektrisiteit en water ten bedrae van 'n allemintige R735 miljoen aan te gaan.
Hy het ook die hof gevra om die aanstelling van ses amptenare om te keer. Hierdie besluite is geneem nadat die samewerking tussen die DA en die ANC-raadslede in die tweede helfte van verlede jaar skipbreuk gelei het en die raad deur Icosa en die ANC oorgeneem is.
Volgens die uitspraak van waarnemende regter, Nobahle Mangcu-Lockwood, is bevind dat die raad nie met die multimiljoenrand kontrak en die ses aanstellings mag voortgaan nie.
Die waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, Roland Butler, se reaksie op 'n navraag oor die twee hofuitsprake en die implementering daarvan was teen druktyd nog nie ontvang nie.
Jeffrey Donson, leier van Icosa.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'