Update
OUDTSHOORN NUUS - Die stof rondom die Checkers-saga waarin 'n werker 'n bestuurder van aanranding beskuldig het, wil maar net nie gaan lê nie.
Die betrokke bestuurder is verlede week tydens 'n interne verhoor onskuldig bevind. Die kriminele klagte wat ook deur die betrokke werker gelê is, is ook laat vaar volgens die regsterme nolle prosequi.
Raadslid Leon Campher het verlede Vrydagoggend 'n plakkaatbetoging voor Checkers gehou om hul misnoeë met dié besluite te kenne te gee. Die betrokke bestuurder was ten tyde van die plakkaatbetoging nie by die werk nie.
Campher het geëis dat die betrokke bestuurder onmiddellik geskors word hangende 'n ondersoek wat Checkers volgens hom teen die bestuurder behoort in te stel.
"Hierdie picketing gaan nie net oor een enkele klagte teen die bestuurder nie; daar is 'n ellelange lys van klagtes oor die jare teen die bestuurder wat eenvoudig onder die mat ingevee word. Hoe is dit moontlik dat een mens so 'n skrikbewind op werkers kan voer sonder om aanspreeklik gehou te word. Ek meen as die rolle omgekeerd was sou geen werker ooit met hierdie tipe optrede weggekom het nie. Dan die ander ding wat my dwars in die krop steek, is die feit dat die betrokke werker nie eers in kennis gestel is dat die interne saak opgelos is nie. "
Campher het tydens die plakkaatbetoging 'n memorandum aan Checkers se streekbestuurder oorhandig en verwag binne sewe werksdae terugvoering oor sy eise.
Bestuurder se vrou praat:
Die bestuurder se vrou het by navraag gesê dat sy en haar vrou sedert dié hele saga soveel stres ondergaan het dat hulle albei vir twee weke by 'n neurokliniek ingeboek was.
"Ons kan snags glad nie slaap nie en die ironie van alles is dat my vrou daagliks baklei vir haar werkers. Sy werk sedert sy agt jaar oud is in winkels en sy weet presies hoe om 'n winkel te bestuur. Sy mag baie streng wees, selfs gereeld met ons wat saam met haar woon, maar daar is nie 'n enkele slegte been in haar liggaam nie. My vrou is 'n mens wat hou van orde - selfs by die huis, en as sy jou aanspreek, mag dit bold klink, maar ek wat haar ken weet dit kom vanuit 'n goeie plek - vra selfs haar medewerkers waarmee sy elke dag saamwerk. Ek sal mos nooit vir soveel jare met 'n sogenaamde monster getroud wil wees soos die mense haar nou uitmaak om te wees nie."
Die bestuurder se vrou sê verder dat die publiek haar vrou kruisig sonder om haar kant van die saak te hoor.
"Ek moet bieg; dit maak verskriklik seer as ons die aaklige goed lees wat mense op sosiale media van my vrou kwytraak. My vrou se weergawe is dat 'n toesighouer dit onder haar aandag gebring het dat die werker ter sprake uitgestrek met sy hande agter sy kop in een van die rakke lê. My vrou het toe die werker twee keer oor die interkom versoek om na die kantoor te kom om hom aan te spreek, sonder sukses. Dis toe dat my vrou gaan kyk het wat is fout. Sy het ook die werker versoek om na haar kantoor te kom, en toe hy nie wou nie,het sy 'n werker gestuur om hom te gaan haal. Sy het die werker toe gemoedelik om die skouers gevat en gevra wat die probleem is. Sy het hom toe mooi verduidelik dat as die klagte waar is dat hy uitgestrek in die gang lê, dit uiters onprofessioneel is en dat baie mense werk soek as hy dit nie waardeer nie. "Die valse narratief wat mense versprei dat my vrou die werker rondgepluk en geklap het, is skokkend onwaar. My vrou het ook dadelik ingestem om 'n leuenverklikkertoets te ondergaan om haar onskuld te bewys, wat sy geslaag het. Die betrokke werker en sy getuie het volstrek geweier om ook 'n leuenverklikkertoets te doen - Daar moet gevra word hoekom. Het hulle dan iets om weg te steek?" wou sy weet.
Die hoofeise in die memorandum:
- Checkers moet met onmiddellike effek aan die publiek 'n aanduiding gee waar die kameras in die winkel geïnstalleer is en waar kennisgewings daarvan op is, aangesien die privaatheid en regte van personeel asook klante geskend word.
- Checkers moet die bestuurder ondersoek omdat sy volgens Campher glo aangedui het dat sy nie inwoners van Dysselsdorp sal aanstel nie.
- Checkers moet ook ondersoek hoeveel werkers sedert die bestuurder se aanstelling hul werk verloor het, getal tugverhore asook getal klagtes teen werkers in vergelyking met bestuurders voor haar.
- Campher versoek verder dat Checkers die publiek inlig oor die finansiële verliese wat Checkers sedert 18 Maart gelei oor die protesaksies teen haar - ook of dié verliese van die bestuurder verhaal gaan word.
- Checkers moet die regte prosesse van vervolging teen die bestuurder instel en nie slegs op leuenverklikkertoetse werk waarna ondersoeke doodloop nie.
Die memorandum bevat ook talle klagtes van werkers wat inmenging van die bestuurder se vrou insluit.
Volgens Campher het Cosato (Congress of South African Trade Unions) se president, Tony Ehrenreich, aangedui dat die protesaksies ondersteun en is versekering gegee dat hierdie klagte nasionale aandag geniet. "Afhangende van uitkoms van hierdie memorandum, gaan die gemeenskap 'n proses begin vir mobilisering van verbuikersboikot - ons beslis nie gaan toelaat dat ons ook gëignoreer word soos werkers nie," het Campher gesê.
'n Navraag is na Shoprite-mediagroep gestuur.
Vorige artikels:
- Goedgekeurde plakkaatbetoging voor Checkers
- Checkers-bestuurder onskuldig
- Checkers-werknemers ontevrede oor senior bestuurslid terugkeer na werk
Leon Campher aan die woord. Foto's: Wyndham Ewerts
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’