OUDSTHOORN NUUS - ’n Pa van ses kinders is verlede week in die streekhof aan statutêre verkragting skuldig bevind en ‘n opgeskorte vonnis opgelê waarna hy vir drie jaar onder huisarres geplaas is.
Die 40-jarige Denzil Bok wat van verkragting aangekla was, het skuldig gepleit op die alternatiewe klagte en erken dat hy op 5 Mei 2021 met toestemming geslagsgemeenskap met 'n 15-jarige gehad het.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat die soort misdaad algemeen voorkom en die gemeenskap luidkeels uitroep vir swaar vonnisse en ouers ook vra dat hulle hul kinders moet oppas.
Hy het benadruk dat geen volwasse man geslagsgemeenskap met ‘n kind onder 16 jaar mag hê nie al is dit met toestemming.
Die landdros het Bok nog een kans gegee om buite die tronk te rehabiliteer. Bok het geen vorige veroordelings nie, maar dit beteken nie dat hy nie tronk toe gestuur kan word nie.
Volgens die landdros is die beskuldigde gelukkig dat die staat en verdediging nie verslae aangevra het nie en die hof nie sou geskroom het om hom ‘n swaar vonnis op te lê nie.
“Die beskuldigde was in ‘n vertrouensposisie wat hy misbruik het en die hof moet ‘n duidelike boodskap uitstuur vir voornemende oortreders .”
Bok is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is en drie jaar korrektiewe toesig wat behels 24 uur huisarres vir die volle tydperk behalwe vir werk en kerkdoeleindes.
Hy moet hom ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms.
Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir vir seksoortreders opgeneem moet word en hom ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'