Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO'S - Oudtshoorn het Woensdag, 18 Oktober op Lottoland Help 'n Dorp verskyn met 'n hele paar bekende inwoners wat op die klein kassie gesig gewys het!
Die oogpunt daarvan om Oudtshoorn op hierdie program te kry was om meer toeriste na die dorp en sy omliggende besienswaardighede te lok, wat hopelik die dorp se ekonomie 'n hupstoot sal gee.
In die program word gewys hoe die Kango-grotte se vooraansig opgradeer is.
Die produksiespan van hierdie kykNET-program het in Augustus reeds die Oudtshoorn-uitgawe van die program hier kom verfilm, en was onder meer op
23 Augustus woelig met hul kameras by die Kango-grotte, waar die skenking van die program op gemik was. Die program het gisteraand omstreeks 21:00 op die kassie verskyn.
"Lottoland Help 'n Dorp is hier om ons te inspireer, en om 'n verskil te maak in ons eie dorpe," het Maryke Hayward, Lottoland SA bemarkingshoof, oor dié unieke program gesê.
"Oudtshoorn is so uniek. Dit het sy eie plantegroei en die klimaat is baie interessant – dit voel soos sewe seisoene in een dag!" het die bekende sanger, Leah, aanbieder van die program, die eiesoortigheid van die volstruishoofstad opgesom.
Volgens Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, was die hele doel agter die aansoek aan Lottoland nie die geld nie, maar die lugtyd wat die dorp kry om toerisme te bevorder, veral Suid-Afrikaanse toeriste, om hulle te herinner aan die dorp.
"Lugtyd op die televisie kos vreeslik baie geld. Met hierdie program en wat hulle vir die grotte doen kry ons 26 minute se blootstelling vir Oudtshoorn as geheel. Ons moes 'n interessante projek kry waar Lottoland fisies content kon kry uit die geld wat hulle vir ons gegee het.
"Om 'n ander projek te kry was moeiliker, ons moet tog mense se aandag aantrek en hulle nuuskierig maak. Wat sou nou beter gewees het as die grotte? Dit is een van die grootste toeriste-trekpleisters in die land, selfs in die wêreld," het hy gesê.
Ferreira het vertel dat 'n komitee - saamgestel uit lede van die sakekamer, toerismeburo en die munisipaliteit - saam besluit het oor die inskrywing vir Lottoland.
"Ons eerste prys vir die dorp was die lugtyd wat die dorp sal kry met die program. Ons moes strategies hieroor besluit. Daar is wel ander goed wat die dorp nodig het, maar ons het spesifiek op toerisme gemik sodat ons mense kan terugnooi na Oudtshoorn en vir hulle wys hoe mooi Oudtshoorn is, veral na die reën, sodat hulle hul kinders hierheen kan bring en 'n paar dae in Oudtshoorn kom bly," het Ferreira bygevoeg.
Sy hoop is dat Oudtshoorniete sal verstaan dat die lugtyd op nasionale televisie groot voordele vir die dorp sal inhou.
Alison Moos, die bestuurder van die Kango-grotte, het aan Lottoland vertel dat daar jaarliks 'n gemiddelde kwartmiljoen besoekers by die grotte opgedaag het.
Maar toe slaan die pandemie toe, en sedertdien probeer die grotte herstel.
Lottoland het R200 000 beskikbaar gestel aan die grotte om die voorkoms van buite af te verbeter en dus 'n beter indruk aan toeriste te weergee.
Die kunswerk, wat deur Anton Roets, 'n plaaslike beeldhouer, geskep is, het die voorkoms van die grotte se ingang verbeter. Roets het luidens 'n verklaring van Lottoland vertel hoe die taxistakings byna-byna sy bydrae tot die projek gepootjie het. Dit het 10 dae geneem vir die staal om vanaf Johannesburg tot by George te kom en vandaar moes dit weer per trok na Oudtshoorn gebring word, het hy vertel.
Luidens die verklaring was Leah, aanbieder van die program, verstom toe sy die koepelmuur in sy nuwe gedaante aanskou het. Sy het vir Abri vertel dat sy letterlik haar hande voor haar oë gehou het toe sy en die Lottoland-span na die grotte gery het. Sy wou nie die verrassing vir haarself bederf nie.
En verras was sy beslis. Op die aangenaam-ste moontlike manier, volgens die verklaring.
"Dit het my verwagtinge oortref. Dit is presies, presies perfek vir wat jy daar moet sien. Die prentjie is perfek," het 'n verheugde Leah laat hoor.
Die produksiespan.
Alison Moos (bestuurder van die grotte), Oudtshoorn-burgemeester Chris Macpherson en Leah (aanbieder van die program).
Leah, die aanbieder van die program saam met Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer.
Die nuwe voorkoms van die Kango-grotte. Foto's: Stefan Goosen
VERSKAFDE VIDEO - Oudtshoorn was Woensdagaand op "Lottoland Help 'n Dorp"
VIDEO - Met Oudtshoorn wat reeds gisteraand, Woensdag 18 Oktober om 21:00, op die kykNET-program Lottoland verskyn het, bring Oudtshoorn Courant vir lesers 'n agter-die-skerm insig tot die verfilming van die insetsel, en ook 'n blik op die dag toe die projek bekendgestel is aan genooide gaste.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’