OUDTSHOORN NUUS - Die munisipaliteit se beleid dat inwoners belas word op die aantal toilette per huishouding, stink. Dit is die mening van inwoners wat hulle reeds tot die minister van plaaslike regering gewend het om te kla oor die hoë "potbelasting" wat huiseienaars op Oudtshoorn moet opdok.
Een van die inwoners het verlede week 'n brief aan die munisipaliteit asook aan die provinsiale minister van plaaslike regering, Anton Bredell, gerig. ('n Verkorte weergawe van die brief is op bladsy 7) Riooltariewe op Oudtshoorn is ook een van die punte wat gereeld deur AfriForum opgehaal word.
Volgens die briefskrywer is daar na 18 jaar se korrespondensie oor die wyse waarop riooltariewe op Oudtshoorn toegepas word, nog geen poging deur die munisipaliteit aangewend om dit te hersien nie.
Die persoon wys daarop dat huiseienaars op Oudtshoorn tans R128 per maand betaal as daar een toilet in 'n huis is, R256 vir twee, R384 vir drie en R512 vir vier.
Die aantal inwoners per huishouding of die mate van gebruik word nie in ag geneem nie.
"Dit beteken dat 'n huis wat vir jare in 'n familie se naam is en waar daar nou slegs twee ou mense woon, drie of vier keer meer betaal as mense in 'n klein huisie waar tot tien mense dalk woon," sê die inwoner.
Die Oudtshoorn Courant het navrae ten opsigte van riooltariewe aan Oudtshoorn en nog drie ander munisipaliteite gestuur. Die ander munisipaliteite het dieselfde dag gereageer, maar teen gister is geen reaksie van Oudtshoorn-munisipaliteit ontvang nie. Volgens die reaksies blyk dit dat geen ander munisipaliteit riooltariewe op die aantal toilette in 'n huis as basis gebruik nie.
In George word 'n vasgestelde tarief van R220 per eiendom gehef, ongeag die aantal toilette per huis. Daar word wel 'n addisionele R220 gehef as daar 'n tweede woning of woonstel op die erf is. Besighede se tariewe word wel per toilet (R239) bereken.
In Mosselbaai word 'n vaste tarief ook gehef ongeag die aantal toilette, maar besighede wat as akkommodasie-instellings geregistreer is word per toilet belas.
Volgens Riversdal se munisipaliteit word die riooltarief daar volgens die grootte van die wateraansluiting by 'n eiendom bepaal en nie volgens die aantal toilette op die eiendom nie.
Die skrywer van die brief wys daarop dat die munisipale stelselswet, Wet 32 van 2000, pertinent sê "the amount individual users pay for services should generally be in proportion to their use of that service..."
Die skrywer is van mening - en stel dit ook so aan die munisipaliteit en die minister - dat inwoners 'n klasaksie teen die munisipaliteit kan begin vir tariewe wat oor jare oorverhaal is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'