OUDTSHOORN NUUS - Morné Minné (49), geliefde inwoner van Oudtshoorn, is Maandag in Amerika oorlede.
Volgens Lisa Cooper, Minné se verloofde van die afgelope sewe jaar, het hy in Maart na Amerika vertrek om daar te gaan werk. Hy het voor dit by Van Antwerp Sweiswerke gewerk.
"Dit wil voorkom of hy moontlik aan 'n hartaanval oorlede is. Dit is verskriklik warm waar hy werk en sy hart het dalk bietjie swaar getrek as gevolg van dit, maar hulle moet nog 'n nadoodse ondersoek doen om te bepaal presies waaraan hy oorlede is."
Cooper sê sy het nooit die impak besef wat hy op mense in die dorp gehad het nie.
"Hy was Oudtshoorn. Oral waar jy ry sal jy sy hande werk sien. Hy was 'n uitstekende sweiser soos meeste in die dorp weet. Hy was ook 'n baie gewilde platejoggie wat presies geweet het hoe om mense lekker te laat dans. Hy was 'n fantastiese pa en 'n ongelooflike man. Hy was almal se vriend. Hy was opreg en lojaal en hardwerkend. Hy was vrek spesiaal en so geliefd," vertel sy kinders.
Volgens Sandré de Villiers, een van sy dogters, was hulle kinders ongelooflik trots op hul pa.
"Ons kon nooit gou vinnig dorp toe gaan nie, want 'n 10 minute uitstappie het 'n uur geraak omdat hy altyd met almal gesels het. Dit was so lekker om te sien hoe baie mense van hom gehou het."
Volgens Cooper sou sy en Minné volgende jaar Januarie getrou het.
"Hy was so opgewonde oor die troue. Hy sou Desember teruggekom het van Amerika af. Ons het al die slapies afgetel vir wanneer hy terug kom."
Sy sê sy gaan sy glimlag en sy hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie die meeste mis.
Minné se familie sê hulle is stukkend oor wat met hom gebeur het.
"Sy dood was so skielik. Ons het hom so bitter lief gehad. Ons sal nou vir hom sê soos hy altyd vir ons gesê het: "I love you long time, ten dollars, two times twice."
Hy laat sy drie kinders, Sandré de Villiers, Corné Minné en Marisa Minné, Lisa Cooper en haar twee seuns, Arlo en Rickus, sy ma, Esmaré, en vier susters en 'n broer agter.
Sy roudiens sal op 28 Julie om 11:00 uit die Welgeluk-gemeente gehou word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’