OUDTSHOORN NUUS - Die soldaat-seun en broer van 'n bekende familie van Colridge View, Oudtshoorn, het verlede Vrydag op die pad tussen Langebaan en Vredenburg gesterf toe 'n weghol-sleepwaentjie sy voertuig getref het.
Sers. Grantham Snyman (45), die seun van oudskoolhoof Willie Snyman en sy vrou, Katy, is op die toneel deur paramedici dood verklaar.
Die ongeluk het omstreeks 14:00 Vrydagmiddag plaasgevind.
Sy tweelingbroer, Glen Snyman, sê Grantham was van sy werk in Langebaan onderweg na Vredenburg waar die gesin woon, om sy jongste dogter by die skool te gaan haal. Glen is die stigter van People Against Race Classification (PARC) en Death Penalty Supporters (DPS) wat onlangs in die nuus was toe DPS gestig is.
Die noodlottige ongeluk het gebeur na 'n sleepwaentjie van 'n aankomende bakkie losgeruk en voor Grantham se motor beland het. Grantham se voertuig het die pad verlaat.
Die wrak waaruit Grantham Snyman se liggaam gesny is.
Glen sê sy broer was vir die afgelope 26 jaar verbonde aan die SANW Vier Spesiale Magte in Langebaan. Hy sal op Sondag 10 Desember in Vredenburg begrawe word.
Snyman laat sy vrou, Ladophica, twee dogters, Peunay-Jade (20) en Luchea (16), sy ouers, drie broers, William, Glen en Alwin, en twee susters, Estelle Strydom en Marlene Cupido agter.
Glen Snyman kan vir meer besonderhede oor die begrafnis by 072 3424 926 geskakel word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’