OUDTSHOORN NUUS - Die nuwe Klein Karoo Ostrich Emporium by die ingang van Oudtshoorn is 'n vertoonvenster vir die volstruisbedryf.
"Die doel met die Emporium is nie net om die Klein Karoo Groep op die hoof-toerismeroete tussen die binneland en die Suid-Kaapse kus sigbaar te maak nie, maar om Oudtshoorn as die volstruishoofstad van die wêreld by plaaslike en oorsese toeriste te bemark," sê Johan Schoeman, uitvoerende hoof van dié Groep.
Die Groep het die Bokomo-gebou by die hoofingang van die dorp vanaf George sowat 18 maande gelede gekoop met die doel om die uitgebreide stoorruimte te gebruik.
"In 'n stadium het ons egter besef dat die ruimte op grondvlak 'n uitstekende uitstalruimte en fabriek vir die vervaardiging van volstruisleerprodukte kan wees."
Veranderings aan die binneruim het vroeg Augustus begin. Die ruimte van 1 800 m² is vernuwe en bied 'n moderne uitstalruimte vir Klein Karoo Internasionaal se volstruisleerprodukte wat voorheen in die boetiek by Klein Karoo se hoofkantoor in Koöperasiestraat gehuisves is.
Volstruisleer-modetoebehore, wat onder meer handsakke, beursies en gordels insluit, asook volstruisleermeubels word uitgestal. Daar is ook 'n restaurantgedeelte in die hooflokaal.
Fabriek
Die ruimte sluit ook die fabriek waar volstruisleerprodukte vervaardig word in. Die fabriek bestaan uit twee dele, naamlik die swaar masjinerie en 'n deel waar afwerking met die hand gedoen word.
Die fabriek was ook voorheen by die Klein Karoo Groep se hoofkantoor gevestig. Die Emporium verskaf werk aan 20 Klein Karoo-werknemers, waarvan 17 vakkundiges in leerverwerking is.
Die restaurantgedeelte van die nuwe Ostrich Emporium.
"Die meer ervare werkers leer die jongeres hoe om met volstruisleer te werk."
Klein-Karoo se volstruisvleisprodukte word by die Deli te koop aangebied. Beans about Coffee bestuur die koffiewinkel en restaurant, en Oudtshoorn-toerisme het 'n kiosk hier.
"Ons verwag dat die besoekerstal aan die Emporium 100% gaan toeneem. Die ou Klein Karoo Boetiek op die perseel van die Klein Karoo Groep se hoofkantoor, was te klein om reg te laat geskied aan ons luukse produkte en dit was weggesteek aan die rand van die dorp."
Ander ondernemings wat op die perseel sake doen is Spiral Horn Taksidermie, die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) en Deltamune-laboratoriums.
ARTIKEL: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'