Billy Flattery, `n fietsryer van George wat deelgeneem het aan die 100 km Wesbank-prettrap het Saterdag ernstige hoofbeserings opgedoen toe hy op die Calitzdorp-pad getref is.
Flattery het ook beserings aan sy werwels, hand en `n diep wond aan sy elmboog opgedoen.
Top fietsryers van die Cycle 4 Diabetes-span, Marchal Hendricks en Rico Bence is ook beseer en kon nie die wedren voltooi nie.
Die ongeluk, wat sowat 30 km vanaf Oudtshoorn plaasgevind het, het gebeur toe die voertuig `n bondel ryers wou verbysteek. Volgens beamptes wat verantwoordelik was vir die regulering van verkeer het hulle die bestuurder van die Toyota-bakkie gewaarsku om stadiger te ry. Die bestuurder het beamptes egter verontagsaam en die bondel teen `n hoë spoed by dubbel sperstrepe en teen `n blinde hoogte in die rigting van Oudtshoorn verby gesteek.
Die bondel ryers was die tweede groep wat die voorlopers, met die wenner van die wedren aan die voorpunt, Danzil Afrika, gejaag het.
Die voertuig het op die skouer van die pad beweeg waarna dit beheer verloor het, terug na die bondel beweeg het en van die fietsryers getref het.
Dr. Jacques van Staden, ook een van die ryers in die groep en die man aan die stuur van die Cycle 4 Diabetes-span, het Flattery te hulp gesnel. "Myns insiens is dit `n wonderwerk dat hy nog leef," het Van Staden Maandag aan Oudtshoorn Courant vertel.
"Ons het teen tussen 30 en 40 kph gery toe die bakkie verbyjaag en Flattery tref. Hy het deur die lug getrek. Mens voel magteloos wanneer jy sien hoe so iets gebeur. Ek het dadelik van my fiets afgeklim om hom te help. Ek was bekommerd omdat hy stil gelê het en ek het geen mediese toerusting by my gehad nie." Van Staden was egter vol lof vir die mediese personeel van die byeenkoms. "Daardie ouens het baie goeie werk verrig." Van Staden, sowel as Peyter van der Laan, een van die mediese beamptes wat tydens die byeenkoms werksaam was, het verduidelik dat hulle Flattery gestabiliseer het en daarop gefokus het om hom weer by te bring.
Flattery het die nag in die plaaslike Mediclinic deurgebring en is Sondag ontslaan.
Oudtshoorn Courant het Dinsdagoggend met Billy Flattery op sy 25ste verjaardag gesels. "Ek onthou niks van die ongeluk nie, net dat ek in die hospitaal wakker geword het," het hy vertel. Flattery het gesê dat hy pynmedikasie neem en beoog om weer teen volgende week fiets te ry en te oefen.
Volgens polisie het die bestuurder van die bakkie, glo nie `n Suid-Afrikaanse landsburger nie en woonagtig in Mannenberg, Kaapstad, na die ongeluk op die vlug geslaan en is hy net voor Oudtshoorn deur verkeersbeamptes aangekeer.
Calitzdorp-polisie ondersoek klagtes van roekelose en nalatige bestuur, versuim om op die toneel te stop na die botsing asook `n 'n klagte van ongelisensieerde voertuig. Die bestuurder is nie in aanhouding nie.
Die bestuurder is ook op die toneel getoets vir alkohol, maar was nie onder die invloed nie. Volgens Van der Laan is vyf ryers in die voorval beseer waarvan twee voortgegaan het om die wedren te voltooi.
Oudtshoorn Courant het verlede week geskryf oor `n plaaslike fiestryer Mike Lombard, wat padveiligheid bepleit. Lombard se goeie vriend, Frank Nel, was een van die ryers wat in 2010 op dieselfde pad in `n ongeluk omgekom het.
Danzil Afrika aan die voorpunt was die wenner van Saterdag se Laerskool Wesbank 100 km-padwedren. Een ryer is ernstig beseer toe `n bondel wat die voorlopers op die terugroete agterna gesit het, deur `n bakkie getref is.