Die arrestasies het gevolg nadat Elite Motors in Voortrekkerweg Saterdagmiddag omstreeks 13:30 deur een van die verdagtes beroof is.
Volgens 'n werknemer van Elite Motors, Francis Maneli, was sy en 'n kollega, Jana Ayford, in hul kantoor toe 'n man kleingeld vra om die toilet te gebruik. Maneli verduidelik dat sy besig was om die vorige aand en die oggend se kontant te tel voordat sy dit in die valkluis deponeer. Die man het 'n tweede keer ingekom en weer geld kleingemaak vir die toilet. "Hy het ons toe nogal kom groet en bedank vir die gebruik van die toilet en toe loop hy," sê Maneli.
'n Ruk later het die man egter teruggekeer terwyl sy alleen in die kantoortjie was. "Hy het 'n wapen voor by sy broek uitgehaal en vir my gesê 'Jy los alles nou net so. Jy vat aan niks, anders skiet ek jou' toe het hy al die note in die banksak gedruk en uitgeloop na KFC se kant toe. Ek was skoon lam van skrik."
Die verdagte het in 'n wagtende groen Toyota Corolla gespring waarin twee ander mans reeds gesit het. Maneli het alarm gemaak, maar die motor het links in Hoogstraat in die rigting van George verdwyn.
Intussen het 'n plaaslike sakeman, Christie Slabbert, wat pas diesel by die vulstasie ingegooi het gesien iets is verkeerd en stilgehou. "Ek het gesien die vrouens hardloop op die parkeerplek rond en beduie toe draai ek om, om te hoor wat aangaan," het hy vertel.
Hy het Maneli opgelaai en in die rigting gejaag waarin die Toyota verdwyn het. 'n Sekuriteitswag oorkant die straat het intussen die polisie gekontak. Slabbert het op die George-pad gejaag en 'n polisievoertuig teëgekom wat toevallig met patrollie was en wat pas gehoor het van die rooftog. Volgens hulle het die verdagtes nie daar verbygery nie. Slabbert het toe omgedraai en na die Mosselbaai-pad toe gejaag. "Ek was nie seker of die polisie ook die Mosselbaai-pad dophou nie, toe bel ek die Da Gamaskop-polisiestasie. Hulle het gesê dat hulle dadelik 'n voertuig gaan stuur om die pad toe te maak."
Die Mosselbaai-polisie het die verdagtes tussen Hartenbos en Brandwag voorgekeer en in hegtenis geneem. "Ek weet nie of die polisie gedink het ek is die eienaar nie, want hulle het heeltyd met my gekommunikeer tot ek weer terug by Elite Motors was. Hulle het my gebel om te sê hulle het die rowers gevang, en ek het toe my selfoon vir die polisie gegee om verder te praat."
Volgens kapt. Bernadine Steyn Suid-Kaapse polisiewoordvoerder is die drie verdagtes gearresteer en al die geld sowel as 'n speelgoedpistool is in die motor gevind. Die drie verdagtes, Rots Nel (24), Thulani Nkala (37) en Dumisani Nkosi (40) het Maandag in die landdroshof op Oudtshoorn verskyn op klagtes van gewapende roof. Hulle bly in aanhouding tot hulle volgende hofverskyning op 25 Februarie waartydens borgaansoeke aangehoor sal word.
Die SAPD-gebiedsbevelvoerder, brig. Aneeqah Jordaan (met pers bloes) vergader met SAPD-lede op die misdaadtoneel kort na die rooftog by Elite Motors Saterdagmiddag. Die rowers is kort na die roof naby Hartenbos vasgetrek.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR