Piedt is verlede Maandag in die Green Acres-hospitaal in Port Elizabeth oorlede nadat sy 'n paar maande gelede met die siekte, Bell's Palsey, gediagnoseer is.
Sy was vir 19 jaar in diens van die SAPD en sedert 2008 as instrukteur verbonde aan die SAPD Akademie op Oudtshoorn.
In huldeblyke wat Dinsdag gelewer is, is sy beskryf as iemand met 'n "aansteeklike glimlag en wonderlike geaardheid".
'n Kollega en boesemvriend, kapt. Bettie Wagenaar, het gesê hul vriendskap was soos goud.
"Ek sal haar onthou vir haar lag en gespot, asook vir haar geliefde sê-ding: "Hou net op."
Sy het 'n beroep op Piedt se vroulike kollegas gedoen om in die toekoms soos ma's vir haar twee seuns te wees.
Lt.kol. John Solomons, opleidingsbestuurder by die Akademie, het in sy huldeblyk gesê hy sal Piedt onthou as iemand wat altyd 'n glimlag op die gesig gehad het en baie toegewyd was, ook ten tyde van haar siekte.
"Sy het altyd gedoen wat sy moes doen, maar het nooit haar familie of haar kerk afgeskeep nie. Sy het 'n voorbeeld gestel wat baie van ons kan navolg. Die Akademie het een van sy grootste staatmakers verloor en ons sal haar mis," het Solomons gesê.
Piedt se moeder, me. Gift Ayford, het gesê sy sal haar dogter, die oudste van vier dogters, onthou as iemand vir wie haar werk eerste gekom het.
Die kapelaan van die Akademie, eerw. Sindisa, het in sy boodskap na aanleiding van Johannes 2:11 die familie getroos met die woorde dat God vertrou moet word in alles wat Hy doen al lyk dit vir die mense nie altyd so goed nie.
Ruby-Anne word oorleef deur haar man, Philip, twee seuns, Phoulroux (13) en Philip jr. (10), haar ouers en drie susters.
Sy word môre-oggend om 11 uur vanuit die Ver-enigende Gereformeerde Kerk begrawe. Die huisdiens te Oostelikeweg 116, begin om 10 uur.

Ruby-Anne se man, Philip en twee seuns, Phoulroux (13) en Philip jr (10) blaas kerse uit tydens haar roudiens Dinsdag. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'