Dit is van die inligting wat die Oudtshoorn Courant hierdie week op navraag van die Oudtshoorn-polisie ontvang is. Volgens kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie het elf van hierdie ongelukke in slegs drie dae vanaf Vrydag 15 Augustus tot Sondag 17 Augustus plaasgevind.
Alhoewel die botsings ook geringe botsings insluit, is dit steeds 'n hoë ongeluksyfer vir 'n dorp die grootte van Oudtshoorn, sê 'n senior verkeersbeampte.
Visser het ook beklemtoon dat die statistiek nie ongelukke insluit wat in Dysselsdorp en De Rust aangemeld is nie.
Slegs gedurende verlede Saterdag was daar drie ernstige ongelukke in en naby die dorp en een net buite die dorp se grense.
Om ongeveer 10:45 het twee bakkies by die kruising van Langenhovenweg en Bloemstraat met mekaar gebots. Volgens Visser het 'n geparkeerde voertuig die uitsig van een van die bakkies belemmer kon die bestuurder glo nie die aankomende voertuig in Langenhovenstraat sien nie.
Die tweede ongeluk van die dag was net voor 19:00 toe 'n Volkswagen Fox wat vanuit Calitzdorp na Oudtshoorn onderweg was omgeslaan het. Die bestuurder het glo vir 'n dier in die pad uitgeswaai en beheer verloor. Die bestuurder en sy passasier is lig beseer en per ambulans na die Oudtshoorn-hospitaal geneem. Die polisie ondersoek 'n klag van roekelose en nalatige bestuur.
Die laaste motorongeluk vir die dag het om 23:15 in Voortrekkerweg plaasgevind toe 'n swart VW Golf teen 'n tuinmuur van 'n huis by die kruising van Voortrekkerweg en Mimosalaan gebots het. Niemand is in die ongeluk beseer nie.
Dié ongeluk het skaars 500 m van die plek plaasgevind waar drie weermaglede twee weke gelede, ook in 'n swart Golf, gesterf het toe hulle motor 'n palmboom getref het.
In die ongeluk Saterdag buite die polisiegebied van Oudtshoorn het 'n bakkie op die Koutie-pad naby Dysselsdorp gerol. Twee insittendes is lig beseer en 'n vrou het 'n beenfraktuur opgedoen.
Volgens inligting is die bestuurder na bewering vir dronkbestuur in hegtenis geneem
Op Maandag 18 Augustus was 'n Toyota Corolla en 'n splinternuwe Ford Eco Sport in 'n botsing by die kruising van Baron van Reede- en Van der Rietstraat betrokke.
'n Toeris van Kanada was Woensdagmiddag net voor 12:00 gelukkig om ongedeerd uit haar gehuurde motor te klim nadat die motor naby Buffelsdrift Game Lodge gerol het.
In haar verklaring het sy gesê dat sy aan die verkeerder kant van die pad gery het en geskrik het toe 'n ander voertuig reg van voor af op haar afkom. Beide voertuie het na dieselfde skouer van die pad uitgeswaai.
Sy het probeer rigting verander waarna die kar omgeslaan het. Sy is per ambulans na die hospitaal vervoer, maar dit blyk dat sy nie ernstige beserings opgedoen het nie.

Die Golf het Saterdagaand, skaars 500 m waar 'n noodlottige ongeluk twee weke gelede plaasgevind het, in 'n huis se muur in Voortrekkerweg vasgery.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.