Nicol Marais het ook beserings aan sy linkerhand opgedoen.
Die Oudtshoorn Courant was enkele minute na die ongeluk op die toneel en het die nooddienste geskakel. Marais het op sy sy in die pad gelê met die blou Kawasaki-motorfiets langs hom. Die beenbreuk het 'n knop op sy bobeen gevorm en dit was ooglopend dat daar nog breuke was.
Hy het teen die regter agterkant van 'n bestuurskooltrokkie vasgery. Weens die erns van Marais se beserings is besluit om hom per helikopter direk George toe te vlieg.
Die AMS-noodhelikopter het op 'n oop stuk veld langs Parkweg geland en Marais afgevoer nadat hy op die toneel gestabiliseer is.
Sers. Gretchen Micheals, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die ongeluk ongeveer 13:55 gebeur.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, het die motorfietsryer na bewering die trok verbygesteek toe die botsing plaasgevind het. "Geen saak word op hierdie stadium ondersoek nie, maar 'n saakdossier sal geopen word," het sy in 'n verklaring gesê.
'n Geskokte Christa Marais, Nicol se ma, was Sondag by die ongelukstoneel waar sy gesê het dat hy aflewerings vir Cango Woodfired Pizzas doen.
"Hierdie is ook nie sy eerste ongeluk nie. Ek het hom nog gevra om vandag by my te kom braai," het sy by die ongelukstoneel gesê. Sy het die week aan die Oudtshoorn Courant gesê dat haar seun baie pyn het.
"Hulle het sy been met 'n pen en sy hand met drade geheg. Hulle wou hom oorplaas Oudts-hoorn toe, maar die hospitaal is te vol so hy gaan nog 'n tydjie in George wees," sê sy.
Marais sê sy waardeer Oudtshoorn se goedheid teenoor haar en alles wat almal tot dusver vir haar en Nicol beteken het.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Die ernstig beseerde Nicol Marais word op die ongelukstoneel behandel voordat hy per helikopter na George vervoer is.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'