Volgens Jackie Oktober, een van Rachel se dogters, het haar ma al Vrydagaand vermis geraak.
"Sy het soms rondgeloop, maar ons was altyd gelukkig om haar ongedeerd te vind. Hierdie keer was ons nie so gelukkig nie," vertel sy.
Oktober sê sy en haar susters het Vrydagaand die hele buurt platgeloop opsoek na hul ma, maar niemand het haar eers gesien nie. Hulle het Rachel daarna as vermis by die Bongolethu-polisiestasie aangemeld en Saterdagoggend het die familie langs die kanaal vanaf Smartie Town, Bridgton, geloop.
"Ons het tot onder by die skut geloop en gevra, maar niemand het haar gesien nie. Met die terugkom slag het ons in die kanaal gaan kyk en haar onder die vullis in die kanaal sien dryf - dit was nie mooi om my ma so te sien nie," vertel sy.
Oktober vertel verder dat hulle haar aan haar baadjie en hare uitgeken het en het haar uit die watergetrek. Die polisie is daarna in kennis gestel.
Oktober sê haar ma het September verlede jaar met tye begin deurmekaar raak en dan sommer geloop. Sy het ook epilepsie gehad, maar die dokters het, volgens haar, niks in haar ma se bloed opgetel nie.
Sy sê die nadoodse ondersoek het die week gewys dat Rachel 'n gewas op die brein gehad het.
"Al wat ons wil weet is hoe sy daar gekom het? Hoe het sy geloop dat niemand haar gesien het nie en hoe het sy in die water beland?"
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê Rachel se liggaam is om 08:55 in die kanaal naby Stolsvlakte gevind.
'n Geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Wyle Rachel Oktober. Foto verskaf

Me. Rachel Oktober se drie dogters, Jo-Ann, Jackie en Ronel Oktober.
Hulle het Saterdag vanaf Smartie Town geloop om hul ma wat al sedert Vrydag
vermis was te gaan soek.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'