Die Jan le Grange-dam, of die Ladismithdam, wat in 1978 voltooi is en 'n kapasiteit van 156 000 kubieke meter het, het 'n struktuurfout in die wal wat die dam se kapasiteit beperk. Verskeie pogings om dit te herstel was onsuksesvol en water sypel steeds deur.
Weens die struktuurfout mag die dam in opdrag van die departement van water en sanitasie nie meer as 60% volgemaak word nie en 'n addisionele uitloop is gegrawe as beskerming om die water weg te lei as die dam na reën in die Swartberge begin water kry.
"Indien die dam voller gemaak word en die wal meegee, sal dit nie net die woonbuurt onderkant die dam oorstroom nie, maar ook die N2 tussen Ladismith en Calitzdorp wegspoel," sê Morné Hoogbaard, Kannaland se munisipale bestuurder.
Met die beperkte kapasiteit hou die dam – tot onlangs die dorp se enigste waterbron – slegs genoeg water vir drie maande se gebruik, wat daartoe lei dat die dorp feitlik heel jaar waternood beleef.
Om die waternood aan te spreek het die Kannaland-munisipaliteit pro-aktief opgetree en met die hulp en finansiering van die departement van water en sanitasie 'n water-sekuriteitstudie gedoen, wat gewys het dat behoorlike herstelwerk aan die damwal tot R15 miljoen kan beloop en dat dit dan slegs twee maande se addisionele water sal verskaf.
Met noodfinansiering van die departement van water en sanitasie is nege boorgate die afgelope jaar in die voetheuwels van die Swartberge ge-sink. Drie van die boorgate, wat teen sowat R2,5 miljoen gesink en toegerus is, is tans in gebruik.
Die water word direk in die dorp se reservoirs gepomp, vanwaar dit vir huishoudelike- en industriële gebruik in die dorp versprei word. Die pype wat die water van die boorgate na die reservoirs voer, lê bo-op die grond ten einde die minste moontlike impak op die sensitiewe ekosisteem te hê.
"Met die drie boorgate is daar reeds aansienlik meer watersekerheid as die afgelope 50 jaar." Dit sal nog sowat R10 miljoen kos om die ander sewe boorgate ook toe te rus vir gebruik," sê Hoogbaard.
Goedkeuring vir 'n nuwe dam met 'n kapasiteit van tussen 700 000 en 1 000 000 kubieke meter en wat as die Swartbergdam bekend sal staan is gegee.
"Ons het reeds die opmeting van die damkom en die voorlopige ontwerp voltooi. Die dam gaan deel uitmaak van 'n geïntegreerde watervoorsieningstelsel wat tot volhoubare groei van die dorp se ekonomie sal bydra," sê Hoogbaard.
Die koste van die dam sluit omgewingsimpakstudies en verdere publieke deelname in en sal na raming tussen R70 miljoen en R100 miljoen beloop. Hoogbaard het aangedui dat fondse vir die dam deur die betrokke department se "Regional Bulk Infrastructure Grant" en deur die "Municipal Infrastructure Grant" voorsien sal word.
" Kannaland neem volhoubare geïntegreerde kapitale ontwikkeling soos hierdie baie ernstig op, veral weens die feit dat dit soveel newe-voordele inhou vir die plaaslike gemeenskap."
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Kannaland se munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard, by een van die drie boorgate wat Ladismith se watervoorraad aanvul.
ARTIKEL EN FOTO'S: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein-Karoo nuus'