Aurial Kollege was die afgelope paar maande gereeld in die nuus weens ernstige vandalisme waar die skool se omheining en klas- en badkamers gestroop en afgebrand is.
Onderwysers en leerders se lewens is ook in gevaar gestel deur gewapende bendelede wat die skoolterrein ongestoord kon betree.
"Ek is self 'n pedagoog, dit is tog my beroep. Ek het self in 'n klas gestaan so ek verstaan jul frustrasie," het Meyer tydens 'n gesprek met die skool se hoof, Philip Stalmeester, voorsitter van die beheerliggaam, Desmond George, en ander beheerliggaamlede gesê.
George het Dinsdag sy kommer aan die minister verduidelik toe hy gesê het dat talle beloftes voorheen deur die onderwysdepartement aan die skool gemaak is, maar dat min daarvan tot uitvoering gebring is.
George het ook sy kommer uitgespreek dat die skool as politieke speelbal gebruik kan word, veral met die oog op die matriekeindeksamen.
"Uit u besoek kan ek duidelik sien dat die departement deeglik bewus is van die situasie by ons skool," het George gesê. Hy het egter ook genoem dat gebrekkige kommunikasie 'n groot struikelblok is. "Ek is 'n ouer van die skool en as voorsitter van die beheerliggaam is dit my plig om toe te sien dat 'n kultuur van dissipline weer gevestig word en dat ons weer 'n topskool word wat die gemeenskap dien."
Meyer het beide George en die skoolhoof, Philip Stalmeester, gemaan om "leierskap te neem."
Kontrakteurs sal hierdie Maandag met herstelwerk by die skool begin. Meyer het gevra dat 'n vergadering belê word met die kontrakteur asook die sekerheidsmaatskappy wat aangestel is om oor die perseel te waak. "Ek kan nie beloftes maak nie," het Meyer gesê.
"Ek kan wel drie sekerhede aan julle noem." Volgens Meyer hou die vergadering die sleutel aangesien gesonde kommunikasie rigtinggewend sal wees.
"Tweedens het hy bevestig dat 'n bedrag van R5 miljoen wel deur die departement van onderwys bewillig is vir die herstelwerk en beveiling van die skool. Derdens het hy die skool se leiers gemaan om direk met die kontrakteurs te skakel en sodoende eienaarskap van die situasie te neem.
"Daar is 'n verlede en daar is 'n toekoms," het Meyer gesê en die skool se leiers gemaan om dié keuse te maak.
"Wanneer u met die gemeenskap praat om terugvoering te gee, moet u met hoop praat."
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.
Van links staan Tom Johnson en Desmond Maarman (kringbestuurders), Desmond George (voorsitter van die skool se beheerliggaam), dr. Ivan Meyer en Philip Stalmeester (skoolhoof).
ARTIKEL EN FOTO'S: JACQUES SWART, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'