OUDTSHOORN NUUS - Die familie van Josh Pharaoh, die 9-jarige seun wat verlede jaar tydens die KKNK gesterf het, het 'n beurs in sy naam gestig om kinders in Oudtshoorn te help.
Volgens Josh se oupa, Hamilton Pharaoh, word die beurs deur 'n nie-winsgewende organisasie, The Foundation for Communities of Excellence, wat hulle as familie in 2015 gestig het, bestuur.
"Die Josh James Pharaoh Bursary is gestig met die doel om kinders in Oudtshoorn te help. Ons wil vir die gemeenskap wys dat ons geen kwade gevoelens teenoor enigiemand koester nie, en ons wil graag hê dat daar iets positief uit die tragiese gebeurtenis kom. Op hierdie manier kan Josh in almal se herinneringe voortleef," het hy gesê.
Pharaoh sê die beurs is gestig om kinders se talente te help ontwikkel, maar ook om hulle met opvoeding te help en om hul drome te bereik.
"Daar is soveel kinders met soveel talente in musiek of sport, maar ook so baie wat dit finansieel nie kan bekostig om dié talente verder te ontwikkel nie. Ons wil graag hiermee help," het hy verduidelik.
Om die beurs amptelik in Oudtshoorn bekend te stel hou die familie Saterdag 14 April 'n Adopt a Star-opvoering in die burgersentrum in Oudtshoorn.
"Die Adopt a Star Show het gespruit uit die aanneming van ons jongste dogter. Die geld wat uit die opvoering gegenereer word sal ten bate van die beurs gebruik word waar ons ander kinders, wat dit nie kan bekostig nie, help om hul talente te ontwikkel. En na Josh se dood het ons besluit om ook die Oudtshoorn-gemeenskap hierby te betrek."
Die opvoering begin om 19:00 en kunstenaars soos Lauren Pharaoh ('n tweede jaar operastudent), Edith Plaatjies (Kanala, District Six, King Kong), Triveno Smith, Laerskool van Reede se koor en die Major 7 Band gaan by die geleentheid optree.
Kaartjies is teen R120 beskikbaar.
Vir meer inligting skakel Pharaoh by 073 599 4733 of Melissa Kennedy by 072 459 1191.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'