OUDTSHOORN NUUS - So het Maretha van der Westhuysen, oud-Oudtshoorniet en deesdae ’n inwoner van George by die bekendstelling van haar tweede bundel kortverhale, Skakerings van kort, by Arbeidsgenot in Oudtshoorn gesê.
Dié boek volg byna drie jaar ná haar eerste kortverhaalboek, Deur haar venster.
Waar haar eerste boek die tema van vrouwees ontgin het, dui die titel van haar tweede op die verskillende “skakerings” van kortverhale daarin, verhale vertel uit die perspektief van uiteenlopende karakters.
Skryf was altyd in haar bloed, “maar ek het net nooit iets daarmee gedoen nie. Wanneer ek iets beleef, skryf ek gewoonlik daaroor – al is dit net vir myself. My ouers was al twee boekmense. Miskien is dit maar in die familie.”
In 2016 het sy by die Klein-Karoo Skryfforum (KKSF) aangesluit wat maandeliks in Oudtshoorn vergader, “omdat ek die behoefte gehad het om reg te leer skryf. Dit was die beste besluit wat ek kon neem. Ek het ongelooflik baie daar geleer. Die groep is ’n aansporing, ’n filter, met kritici en eendersdenkendes. Sonder hulle sou ek seker nooit gepubliseer het nie.”
Van der Westhuysen is vroeër vanjaar tot KKSF-voorsitter verkies.
Om dié besige vrou in die hande te kry, is allesbehalwe kinderspeletjies – altyd op ’n drafstap iewers heen, altyd ’n projek aan’t bestuur. “Ek is die voorsitter van die VLV-tak van George en betrokke by die Vrouediens van die NG Herold- gemeente, asook in die Klipdrift-gebied waar ons familieplaas is.
Vandat ek in ’n aftreeoord in George woon, is ek ook betrokke by die ontspanningskomitee hier en doen gereeld voorlesings by samekomste. Ek is ook betrokke by die Staptog van Hoop vanaf Uniondale tot in Mosselbaai en het die stapgids daarvoor geskryf.”
In 2010 het sy ’n geskiedenisboek oor die bedieningsgebied van die Herold-gemeente geskryf, is al bekroon in die jaarlikse skryfkompetisie van die Bloemfontein Skrywersvereniging en van haar verhale is in ’n Woordfees-kortverhaalbundel opgeneem.
Die kortverhaal as genre pas haar leef- en skryfstyl die beste, het sy gesê. “Ek is nogal haastig van geaardheid en skryf graag kort en kragtig, hou nie van langdradigheid nie. Inspirasie kry ek oral: dinge wat ek waarneem, hoor, oor wonder, oor droom en soms sommer net uitdink. Ek onthou gelukkig baie goed, so ek diep soms dinge van lank terug op om in my stories te gebruik.”
Volgens Van der Westhuysen is nie al haar verhale ewe fiktief nie.
“Lesers wat my ken, noem dat hulle my soms in die stories sien, hoewel dit nie noodwendig biografies is nie. Daar is wel enkele waar verhale wat ek net so ’n bietjie ingekleur het.
Sy werk gestruktureer, het sy gesê. “Die inleiding is seker die belangrikste element van ’n kortverhaal. Dit dui rigting aan, gee die atmosfeer. Sonder ’n goeie begin kan ek nie aangaan nie. Die slot is ewe belangrik, maar dit groei gewoonlik uit wat reeds geskryf is. Die slot moet die leser tevrede laat voel.”
Sy is nie sensitief vir kritiek nie, het Maretha gesê. “Jy kan nooit almal tevrede stel nie, en goeie kritiek kan net jou skryfwerk verbeter. Jy moet ook jou redakteur en uitgewer vertrou en seker wees daarvan dat hulle jou beste belange dien.”
Ophou skryf oorweeg sy nie eens nie. “Daar is al weer ’n hele paar kortverhale klaar. En ek werk aan ’n kinderverhaalboek - alles baie opwindend!”
Vir meer inligting: marethazebra@gmail.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’