OUDTSHOORN NUUS - Lede van die nuutgestigte Oudtshoorn-advieskantoor het Maandag en Dinsdag op straathoeke in die middedorp met plakkate hul ontevredenheid oor munisipale bestuurskwessies te kenne gegee.
Hulle bestuur, onder leiding van Daniel Swarts (voorsitter), het Woensdag 'n memorandum met klagtes en eise aan die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, en die waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit oorhandig.
Volgens Jerome Opperman, ondervoorsitter van die advieskantoor, is hulle 'n nuwe mondstuk vir Oudtshoorniete om klagtes met die munsipaliteit op te neem.
Opperman sê die memorandum bevat Oudtshoorniete se ontevredenheid met die gehalte van drinkwater en die ondoeltreffende waterstruktuur, wat 'n gesondheidsrisiko is.
"Met die hoë belasting en watertariewe verdien ons beter diens. Ons eis onmiddellike aksies van die munisipaliteit om die gehalte van diens aan te spreek." Hulle het ook klagtes geopper oor onreëlmatige aanstellings.
Opperman het gesê die moontlikheid dat hulle kriminele klagtes teen amptenare en raadslede aanhangig kan maaak, is nie uitgesluit nie.
Hy het ook gesê die munisipaliteit kyk nie na die welstand van die dorp se inwoners nie en het amptenare se kwalifikasies bevraagteken.
Beide Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, en die uitvoerende burgemeester, Colan Sylvester, is Dinsdag vir kommentaar genader. Kommentaar is dieselfde dag beloof, maar teen Donderdagoggend het nie een van hulle reageer nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'