PRINS ALBERT NUUS - Objektiwiteit, ingeligtheid, fokus, passie en die vaste oortuiging dat sy haar roeping vervul: Dís Anneleen Vorster, nuwe munisipale bestuurder van Prins Albert, se rigtingwyser in ’n dikwels moeilike werkomgewing.
Vorster, sedert 2014 hoof van korporatiewe dienste en woordvoerder van dié munisipaliteit, is pas in hierdie bestuurspos aangestel in die plek van Heinrich Mettler wat deesdae munisipale bestuurder van die Saldanhabaai-munisipaliteit is.
Haar grootste uitdaging is om ’n volhoubare, bekostigbare diens te lewer wat in die inwoners se behoeftes voorsien,
“met die beperkte fondse tot ons beskikking – terwyl ons dit balanseer met die absolute realiteit dat ons nuwe inkomste, groei en welvaart moet skep. Dit klink dalk na min, maar dis iets wat regerings nog altyd laat kopkrap het”.
Vorster, met 28 jaar ervaring van plaaslike bestuur, sê sy sal bly fokus op dit wat belangrik is vir die munisipaliteit en gemeenskap. “Ek weet nie wat iemand se politieke affiliasie is wanneer hy of sy in my kantoor sit met ’n probleem of voorstel nie. Wat saak maak is die mens en dit waaroor ons moet besluit. Ek glo vas alles wat ons doen moet ingestel wees daarop om die verlede te oorkom, brûe te bou en saam vorentoe te gaan. Ek is al ’n bietjie ouer as baie jongtandskapies in die land en weet dat geen mens of party perfek is nie. Ek verkoop dus nie my siel aan ’n party of persoon nie, maar probeer objektief bly en die beste besluit neem met die inligting tot my beskikking.
“Ek glo elke mens het ’n roeping wat hy moet vervul. Myne is plaaslike regering en spesifiek om die aanhef tot die Grondwet van Suid Afrika uit te leef. Dis die meeste van die tyd moeilik en hartverskeurend, maar dis wat God op my hart gelê het. My ideaal is taamlik eenvoudig – om in elkeen wat hier werk en woon ’n vuur aan te steek om dieselfde te doen. Dis nie polities gebonde nie. Ek beskou Suid Afrika steeds as ’n wonderwerk – dis ’n Godgegewe geskenk en alles wat ons doen behoort dit te reflekteer.”
Dat Prins Albert onlangs aangewys is as een van die bes bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika is vir Vorster ’n riem onder die hart. “Dit beteken baie vir die munisipale amptenare. Daar is egter meer kritiek as dankies, en die amptenare werk regtig hard en lang ure. Ons is die tweede kleinste munisipaliteit in die Wes Kaap, maar van ons word dieselfde verwag as van groot munisipaliteite – met baie minder geld, kundigheid en mense. So, om deur kundiges aangewys te word as tiende in die land behoort die gemeenskap vertroue te gee en hulle twee keer te laat dink alvorens hulle debatteer oor hoe sleg dit gaan in húl deel van die land. Ons het baie om voor dankbaar te wees. Daarmee sê ek nie alles is perfek nie. Ons het groot uitdagings en soms faal ons, maar ons gee ons beste. Dit moet ons as gemeenskap en amptenare dankbaar en trots maak en aanmoedig om nóg beter te vaar. Ons is een van die top-toerismebestemmings in die Wes-Kaap, en deel daarvan is die munisipaliteit se prestasie en dienslewering aan die gemeenskap.”
Die Karoo bly vir haar een van die beste woonplekke in die land, sê sy. “Dit het die mooiste sonsondergange ter wêreld en daar is niks wat die reuk van die Karoo oortref nadat dit gereën het nie.”
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'