KLEIN KAROO NUUS - Anneleen Vorster, wat die afgelope aantal maande as munispale bestuurder van Prins Albert waargeneem het, is verlede week permanent in die pos aangestel.
Vorster was sedert 2014 hoof van korporatiewe dienste en woordvoerder van die munisipaliteit en het in die plek van Heinrich Mettler waargeneem wat deesdae munisipale bestuurder van die Saldanhabaai-munisipaliteit is.
Met 28 jaar ervaring van plaaslike bestuur, sê sy die fokus bly op dit wat belangrik is vir die munisipaliteit en gemeenskap en haar grootste uitdaging is om 'n volhoubare, bekostigbare diens te lewer wat in die inwoners se behoeftes voorsien,
"Ek stel nie belang in iemand se politiek nie, wat saak maak is die mens en dit waaroor ons moet besluit.
"Ek glo vas alles wat ons doen moet ingestel wees daarop om die verlede te oorkom, brûe te bou en saam vorentoe te gaan."
Een van die land se beste munisipaliteite
Prins Albert is onlangs aangewys is as een van die bes bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika. "Dit beteken baie vir die munisipale amptenare.
"Daar is egter meer kritiek as dankies, en die amptenare werk regtig hard en lang ure. Ons is die tweede kleinste munisipaliteit in die Wes-Kaap, maar van ons word dieselfde verwag as van groot munisipaliteite, met baie minder geld, kundigheid en mense. So, om deur kundiges aangewys te word as tiende in die land behoort die gemeenskap vertroue te gee en hulle twee keer te laat dink alvorens hulle debatteer oor hoe sleg dit gaan in húl deel van die land.
"Ons het groot uitdagings en soms faal ons, maar ons gee ons beste. Dit moet ons as gemeenskap en amptenare dankbaar en trots maak en aanmoedig om nóg beter te vaar."
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'