OUDTSHOORN NUUS - Die traumakamer by die Oudtshoorn-hospitaal in Parkweg sal binnekort 'n nuwe warm, verwelkomende en troostende voorkoms hê nadat Helpende Hand, 'n nie-winsgewende gemeenskapsorganisasie, ingetree het.
Maandag 6 November, is die projek amptelik van stapel gestuur met lede van Helpende Hand, die hospitaal en borge wat by die hospitaal saamgekom het.
Helpende Hand, wat onder die organisasie Solidariteit val, is volgens die Oudtshoorn-takvoorsitter, Pricilla Steenkamp, 'n organisasie wat die gemeenskap probeer ophef en ondersteun deur verskeie projekte.
"Ons kyk na die gemeenskap, dit is vir ons belangrik om met die gemeenskap hande te vat," het sy gesê. Die plaaslike tak is eers onlangs in 2022 op die been gebring en die opknapping van die hospitaal se traumakamer is hul eerste projek.
Suster Wilda Abrahams, eenheids-bestuurder van ongevalle by die hospitaal - waaronder die trauma-eenheid val - verduidelik dat hierdie kamer juis 'n plek is om slagoffers van onder meer seksuele misdrywe in 'n omgewing van veiligheid te plaas wanneer hierdie slagoffers hospitaal toe gebring word.
"Dit is waar die hele proses begin wanneer hulle hospitaal toe kom. Hulle word daar ondersoek en ontvang berading. Van daar af kry hulle die nodige verwysing na die kliniek of maatskaplike dienste," het sy bygevoeg.
Volgens Abrahams is die opknapping van die traumakamer baie belangrik.
"Hierdie mense kom na ons toe in hul mees kwesbare tyd. Hulle stap gebroke hier in en moontlik weer heel hier uit. Om daai verskil te maak is baie belangrik en om 'n plek te hê waar hulle veilig kan voel en vertroosting ontvang is baie belangrik. As daar speelgoed vir die kinders is en mooi kleure teen die muur is, skep dit ook vertroosting, en dit beur hulle op," het Abrahams gesê.
Volgens Steenkamp is Helpende Hand Oudtshoorn baie opgewonde oor hierdie eerste projek.
"Daardie kamer is waarheen mense wat regtig getraumatiseer is heen gaan vir hulp. Dit het bietjie 'koud' voorgekom, so ons doel is om dit net baie snoesig en warm te maak met woorde van bemoediging teen die mure, sodat hulle vertroos voel," het sy bygevoeg.
Mariska de Bruyn, Helpende Hand se ondervoorsitter en projekleier van die spesifieke projek vertel dat dit met 'n paar trane in die oë om 'n tafel besluit is om die traumakamer by die hospitaal as hul eerste amptelike projek aan te pak.
"Een van ons lede by die maatskaplike afdeling het dit voorgestel, en ons het almal saam besluit dit is wat ons wil doen. Hier wil ons 'n verskil maak en 'n bietjie warmte gee aan die kindertjies, vroue en mans wat dit nodig het. As jy iemand is wat deur 'n traumatiese ondervinding gegaan het is jy reeds op 'n slegte plek, so wanneer iemand hier inkom wil ons hulle vertroosting en warmte te gee," het De Bruyn vertel.
Fase 1 van die projek is om die mure te verf en die muurskildery met bemoedigende woorde te skep, en dan sal die volgende fase die "versiering" van die kamer insluit met gordyne, 'n rusbank, die opknapping van die badkamer en stort, en algemene nuwe voorkoms.
De Bruyn het bygevoeg dat die wagkamer van die traumakamer ook opgeknap sal word. Die finale produk sal ook bekendgestel word. "Ons het werklik die gemeenskap se hulp hiermee nodig, want daar is baie wat nog gedoen moet word."
Die plaaslike Helpende Hand-tak dek Oudtshoorn en De Rust. Helpende Hand wil graag elke persoon en besigheid wat reeds op enige wyse bygedra het tot die projek bedank en vra ook dat enige belangstellende persone wat verder wil betrokke raak hulle sal nader.
Skakel 064 526 4621 of 082 605 9836 om meer uit te vind of om betrokke te raak.
Hierdie ingang na die traumakamer sal binnekort baie meer verwelkomend lyk na Helpende Hand se bydrae.
Werkers het reeds Maandag 6 November ingespring om die traumakamer by die Oudts-hoorn-hospitaal op te kikker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’