PRINS ALBERT NUUS - Sy is druk besig om die wyk 4-gemeenskap van Prins Albert in te lig oor die betekenis van haar kandidaatskap in die tussenverkiesing hier oor presies ’n week, maar sy kon ’n tydjie afknyp om by navraag te sê: “Slaggereed, ek én die DA. Wyk 4 gaan die hele dorp blou maak.”
So het Margy Jaftha, DA-kandidaat vir dié wyk, aan Oudtshoorn Courant gesê.
Te midde van haar veldtog, vergaderings met die gemeenskap en politieke kollegas, asook die besoek van DA-leiers die afgelope naweek aan die dorp, het Jaftha kommentaar gelewer op verwikkelinge in die dorp in die pylvak na die tussenverkiesing op 14 September.
Verskeie DA-leiers het bevestig dat die uitslag ’n uitwerking op die politieke toekoms van die hele Sentraal-Karoo kan hê.
Jaftha was tot sowat twee maande gelede burgemeester van Prins Albert, as lid van die Karoo-Gemeenskapsparty KGP), maar is uit dié party geskop nadat sy die DA in die raad ondersteun het oor die aanstel van die nuwe munisipale hoof van finansies.
Sy het haar daarna by die DA aangesluit en is vasbeslote om haar wyk terug te kry onder die DA-vaandel.
Intussen het Sharna Fernandez, DA-kiesafdelingshoof vir Prins Albert en Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, in ’n verklaring gesê die DA-leierskap staan bankvas agter Jaftha.
“Die afgelope naweek het verskeie DA-leiers besoek afgelê in Prins Albert ter ondersteuning van Margy Jaftha, DA-kandidaat vir die wyk 4-tussenverskiesing op 14 September 2022.”
Dit sluit in die DA se provinsiale leier en Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van veiligheid en polisie-oorsig, Reagen Allen, en die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Daylin Mitchell.
Volgens Fernandez is die leiers dit eens dat Jafta “iemand van integriteit is wat Wyk 4 na nuwe hoogtes sal neem, omdat sy die mense ken, vir elkeen omgee en sal bydra om Prins Albert ’n beter plek te maak.”
Sy sê die tussenverkiesing sal ’n impak hê op die Prins Albert-munisipaliteit in die geheel, nie net op die inwoners van wyk 4 nie.
“Prins Albert se toekoms is in die hande van die kiesers en hulle sal volgende Woensdag die geleentheid gebied word om ’n regering daar te stel wat na hul belange sal omsien, dienslewering sal prioritiseer – ’n regering wat korrupsie sal uitwys en dinge gedoen sal kry.”
Jaftha is al langer as vyftien jaar ’n aktiewe stadsraadslid en gemeenskapswerker en bekende inwoner van dié Karoodorp.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'