OUDTSHOORN NUUS - Die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is 'n belangrike komponent van die SAPD waarvan die waarde dikwels onderskat word.
Volgens brig. Levona Januarie, bevelvoerder van die Oudtshoorn-polisie is die GPF 'n vennootskap tussen die SAPD en die gemeenskap om kommunikasie en samewerking tussen die twee te bevorder.
Die GPF-proses word deur die departement van gemeenskapsveiligheid in die Wes Kaap bestuur en hulle behartig ook die verkiesing van die GPF-raad. Nuwe GPF-rade word tussen September en Desember vanjaar gekies.
Die verkiesing in Oudtshoorn vind op 26 September plaas. Die GPF bestaan uit verteenwoordigers van organisasies soos byvoorbeeld kerke, skole, NRO's, besighede, politieke partye en belastingbetalersverenigings. Die verteenwoordigers word deur die organisasies genomineer om verkies te word.
Vir verdere inligting oor die GPF en die nominasie proses kontak ao. Leula Claassen by 044 203 9005.
* Die GPF is nie dieselfde as die polisie se sektorforums nie. Sektorforums funksioneer onder die plaaslike polisie, maar die voorsitters van 'n dorp se sektorforums woon wel die GPF-vergaderings by. In Oudtshoorn is daar tans vier sektorforums wat verskillende dele van die dorp verteenwoordig. Sektorforums werk saam met die polisie, straatkomitees, buurtwagte en WhatsApp-groepe om misdaad te bekamp.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'